Saam in liefde voor God

July 29, 2022

Summary

Skriflesing: Mattheus 7:1-12 & Mattheus 18:15-20     Belydenis: HK Sondag 31 v&a 85      Sing: Ps. 2-1:1,4,6; Sb. 12-2:4,5; Ps. 38-1:1,8,17; Ps. 72-1:1; Ps. 73-1:11,12; Sb. 1-2:1,2,3.

“Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle;  want dit is die kern van die Wet en die Profete.”

SAAM IN LIEFDE VOOR GOD

Moenie oordeel nie. Hoekom begin Jesus die volgende deel van die Bergrede hiermee? In Mattheus 7 lyk dit of ons ‘n klomp los opmerkings kry wat nie bymekaar pas nie. Daar sit egter logika agter. In Mattheus 5 en 6 het Jesus die lat hoog gelê. Die mense wat van oraloor gekom het om na Jesus te luister, het in die tyd almal opgekyk na die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hulle was die mense van aansien. Dit lyk of hulle so heilig leef, jy sal een van hulle nie sommer betrap dat hy iets verkeerd doen nie. Maar Jesus skuif hulle aan die kant: “as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as die van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.” (Mat. 5:20) As die lewens van die Fariseërs nie goed genoeg is nie, wanneer is dit dan wel goed genoeg? Jesus lê die lat hoog. Jesus bring ons hier by ‘n belangrike saak. Wat moet jy doen as jy sien dat iemand anders sondig? Foute maak? Jesus begin met: Moenie oordeel nie en Hy sluit die gedeelte af met – “Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.”

Die balk in my oog

‘Haal eers die balk uit jou eie oog…’ Dit is die vertrekpunt. Hiermee raak Jesus iets baie belangrik aan. Hy maak ons baie bewus van wie ons is. Elkeen van ons is sondige mense. Die ou ek is daar. En daarom: wees eerlik met jouself. As jy met iemand anders praat, weet dat jy ‘n kind van die Here is, wat leef vanuit die verlossing van Jesus Christus. Bewus van jou eie gebreke, kyk jy anders na ander mense. Haal uit die balk. Dit is: het jou naaste lief. Dit is presies wat liefde doen. Dit is ons benadering in hierdie lewe. Liefde gaan oor die ander.

Die splinter by die ander

‘…dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.’ Hierby sluit die gedeelte wat handel oor die tug in. Die saak het te make met lewe en dood. Dit wat hier op die aarde gedoen word is bindend. Drie motiewe word gegee vir die tug. Eerstens gaan dit oor die eer van God, tweedens oor die behoud van die sondaar en derdens oor die heiligheid van die gemeente. Die gemeente van Christus moet beskerm word teen ons grootste vyand – die sonde.

Die kern van die evangelie

Hier hoor ons die kern van die evangelie. Die kerk het nie ’n kerkwet waarvolgens lidmate gestraf word nie. Ons is nie hier om mekaar, soos in die wêreld, te veroordeel nie. Die doel van die tug is nie om iemand te straf nie, maar om iemand terug te bring by Jesus Christus. Om versoening te bewerk. Die binnekant van die kerklike tug is die christelike liefde. Liefde teenoor God en liefde teenoor mekaar. So beskryf Jesus dit vir ons in Mattheus 18.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com