Posted by Admin

Gehoorsaam aan die “afwesige” teenwoordige God word erfgename oorwinnaars.

Die verkiesing van komende Woensdag bring in verskeie opsigte onsekerheid.  Watter politieke party gaan die meerderheid stemme kry?  Watter van die partye gaan met mekaar saamspan?  Hoe gaan die ekonomiese markte op die uitslae reageer? Gaan die onteiening van grond ‘n werklikheid word en indien wel, hoe sal die nuwe regeerders dit toepas? As gelowiges ontsnap ons ook nie al die onsekerhede nie. Uit Josua 4 wil ons egter vanoggend beklemtoon dat ons nie midde in die onsekerhede weerlose en uitgelewerde mense is nie.

As erfgename deur die Jordaan.

Lied 283:1, 2. Ps. 150:1, 2. Ps. 34:5, 6. Ps. 112:1, 2, 3. .(Omd)  

Toe Israel deur die Jordaan moes trek, sou hulle ook deur die onsekerheid van die toekoms oorweldig kon word. Hulle was immers ‘n volk wat voorheen deur twyfel oorweldig is. Hulle was ‘n “woestynvolk” wat nie militêr kundig was nie met gevestigde vyande aan die ander kant van die Jordaan.

Om die Jordaan oor te steek, het egter ook iets anders beteken. Die Jordaanrivier was nie maar net nog ‘n rivier nie. Die Jordaanrivier het alles te doen gehad met beloftes wat God aan Israel gemaak het. Wanneer hulle deur die Jordaan gaan, begin die volk dit wat God aan hulle beloof het, in besit neem. Hulle trek as die volk aan wie God Hom in sy genade verbind het en wat Hy sy erfgename gemaak het, deur die Jordaan die land met soveel onsekerhede binne.

As Nuwe-Testamentiese gelowiges mag ons in soveel ryker mate as Israel van die ou bedeling, seker wees van God se ontferming en van ons erfgenaamskap. Deur sy Seun het God ons sy kinders gemaak. Deur sy Seun is ons ook sy erfgename – erfgename van die ewige lewe en erfgename van die nuwe aarde wat kom. Ek gaan dus nie die onsekerheid van die verkiesing binne as iemand wat na die verkiesing alles kan verloor nie. My kindskap en my erfgenaamskap kan niemand van my wegneem nie.

Onder die vleuels van die “afwesige” teenwoordige God.

Wanneer Israel deur die Jordaanrivier trek, is dit opvallend dat die ark van God ’n sentrale plek inneem (vgl. vv. 7, 9, 16 en 17). Die ark, weet ons, was die simbool van God se koningstroon by sy volk. Wat vir die heidense volke egter totaal ongehoord en vreemd sou wees, was dat Israel nie ook ‘n beeld van hulle God saam met die ark deur die Jordaan gedra het nie. Vir die volke was hulle gode teenwoordig in die afbeelding van gode. Hoe ironies was dit nie wanneer volke voor vyande moes vlug en in plaas daarvan dat hulle gode hulle help, moet hulle die gode-afbeeldings op diere laai sodat die vyand dit nie vernietig nie. In plaas daarvan dat die gode hulle dra, moes hulle die gode dra. Hoe anders is dit nie met die God wat sy teenwoordigheid by die Jordaan openbaar nie? Geen Israeliet kon twyfel oor sy trou (vgl. v. 23) almag (vgl. v. 2) en sy persoonlike sorg (vgl. v. 14) nie. Mag die teenwoordigheid van die God Wie se trou, almag en persoonlike sorg so helder in sy Seun en die Heilige Gees skitter, ons ook midde in die menigte onsekerhede bemoedig.

Deur gehoorsaamheid oorwinnaars.

Wanneer God sy volk op so besondere manier deur die Jordaan lei, gaan dit nie net daaroor dat Hy aan hulle die Beloofde Land gee nie. Hy het ‘n tweërlei doel:

  1. Die volk moet Hom “vrees” (v. 24).
  2. “Vrees” wys nie op bang wees nie, maar op ontsag, vertroue, verwagting en verwondering.
  3. Hierdie “vrees” moet altyd, ook in die nageslag, lewend bly (4:20-24).
  4. Die volke van die aarde moet Hom in sy almag leer ken (v. 24) God is geen stamgod nie!

Dit is duidelik dat die volk se “vrees” van die Here alles te doen het met die volke wat God se mag leer ken (vgl. 5:1). Wanneer ons as gelowiges ware ontsag vir die Here het, wanneer ons ons werklik oor die Here verwonder en daar by ons vertroue en verwagting is, spreek dit duidelik tot die ongelowige.