Posted by Admin

Wie intens en lewend onthou, is vrymoedige bidders en hoopvolle saaiers.

Onthou intens en lewend.

“Onthou ek nog intens en lewend die ommekeer wat in my lewe bewerk is?” is ‘n vraag wat uit Psalm 126 aan ons gevra kan word. Die digter van die Psalm onthou in fyn besonderhede die blydskap wat die volk ervaar het toe die volk se lot verander is. Waarskynlik was dit toe die Israeliete uit die ballingskap na hulle eie land kon terugkeer. i) Hulle monde was vol lag en hulle tonge het gejuig (2a); ii) die verlossing was so groot dat dit eintlik soos ‘n onwerklikheid gevoel het (1b); iii) selfs die nasies het opgemerk dat hier iets groots gebeur het (2b) en iv) die nasies se reaksie het hulle weer aangespoor om ook te erken dat iets groots gebeur het (v.3). Die digter besef ook uitdruklik dat dit die HERE is wat hulle lot verander het.

Dit is opvallend dat die digter nie in sy beskrywing terug hunker na die verlede nie. Hy beleef in die hede steeds die intense blydskap oor die grootsheid van die verlossing wat die HERE bewerk het. Hoe intens is jou blydskap oor die ommekeer wat die Here ook vir jou bewerk het, gelowige? Nagmaal wil dat ons blydskap oor die verlossing wat ons ontvang het, nie stof sal vergader nie.

Vrymoedige bidder.

Die digter wat die verandering wat die HERE bewerk het so intens en ook lewend onthou, is ‘n vrymoedige bidder. i) Hy is vrymoedig om te vra dat die HERE die volk se lot weer sal verander.  ii)Sy vrymoedigheid strek so vêr dat hy vir ‘n drastiese ommekeer vra – so drasties soos wanneer die droë stroombeddings in  die Negev teen alle verwagtings in skielik in strome water verander. iii) Vrymoedig vra hy ook met verwagting.

Wie ná die viering van die Nagmaal intens en lewend onthou, huiwer nie om met  vrymoedigheid te bid nie – ook te bid dat die HERE ‘n drastiese ommekeer sal bewerk.

Hoopvolle saaier. (Nabetragting)

Wanneer gelowiges die wonder van hulle verlossing vars en nuut besef, is hulle nie net vrymoedige bidders nie.  Hulle word ook spesifieke soort saaiers. Wanneer hulle omstandighede sleg is, ontken hulle dit nie.  Hulle gee nie vir hulleself of vir ander voor dat alles reg is nie. Wanneer daar huil-omstandighede is, huil hulle (vv. 5-6). Maar let op wat doen hulle terwyl hulle huil. Hulle gaan uit en dra al huilende die leersak met die saad (v. 6) en hulle saai met trane (v.5). Hoekom hou hulle aan om te saai?  Wil hulle net nie erken dat daar geen hoop is nie? Hulle hoop is gerig op die Een wat reeds hulle lot verander het, die Een wat Hom reeds oor hulle ontferm het en uitkoms gegee het. Hy is die Een wat sorg dat sy saaiers met gejuig maai en met gejuig terugkom terwyl hulle die gerwe dra (vv. 5-6).

Gelowige, jy wat by die Nagmaal verseker is dat jy reeds met soveel gerwe in jou hande staan, sal jy dit regtig oorweeg om in jou lewe op te hou saai?