Posted by Admin

2 Junie 2019 Lees Filippense 1:12-26. Teks: vers 21
Hy wat nou Here is, is sowel die sin van my lewe en die reuse wins wat ek verwag.!

Inleiding: Die hemelvaart van ons Here, moet ons erken, het in ‘n sekere sin afstand bewerk tussen Jesus en die mense wat aan Hom behoort. Voor sy hemelvaart was Hy liggaamlik saam met sy volgelinge hier op aarde. Nou is Hy liggaamlik in die hemel. Op aarde was Hy aan dieselfde swaarkry en aanslae as sy volgelinge onderwerp. Ná sy vernedering en oorwinning het God Hom egter verhef tot die hoogste eer en aan Hom ‘n Naam gegee wat bo alle name is (vgl. 2:9-11). Hoe moet ons hierdie verandering, hierdie afstand, wat met die hemelvaart gekom het, verstaan? Ons teksgedeelte bied hieroor aan ons duidelikheid. Uit die gedeelte blyk dit dat daar, na die hemelvaart, die aller nouste eenheid tussen Jesus Christus en sy volgelinge is. Hierdie eenheid is ‘n werklikheid terwyl die gelowiges hier op aarde is, maar is ook ‘n werklikheid wanneer die gelowige sterf.

Die Een wat tot die hoogste eer verhef is, is nou die sin van my lewe.
Paulus sê in vers 21: “… om te lewe is vir my Christus.” Hierdie is werklik ‘n radikale stelling. Wanneer ek dit sê, sê ek dat my totale lewe om Christus draai, dat my lewe heeltemal opgaan in Christus en dat my lewe hier op aarde sonder Hom geen ware betekenis het nie. Laat ons meer sê oor hierdie verhouding waarin alles draai om die Een wat tot die hoogste eer verhef is.
• Dit is ‘n verhouding met ‘n spesifieke oorsprong. Dit is ‘n deur-God-bewerkte-verhouding (vgl. 1:6 en Hand 9:15-16).
• Liefde en vertroue staan in die verhouding op die voorgrond.
• In hierdie verhouding word een skande ten alle koste vermy en een doelwit met oortuiging nagejaag (vgl. v. 20).
• Die vreugde van hierdie verhouding is dat Christus bekend gemaak word (v. 18).

Gelowige, jy is in hierdie verhouding. Leef jy, ja, leef jy hierdie verhouding? Is om te lewe vir jou Christus?

Hy wat nou Here is, is die reuse wins wanneer ek sterf.
As my lewe op hierdie aarde opgaan in Christus, wat gebeur met hierdie radikale verhouding wanneer ek sterf. Die dood het immers die vermoë om alles wat aan mense se lewe betekenis gee, alle “wins” op hierdie aarde, in “verlies” te omskep. Gelowiges, so moet ons erken, ontsnap net soos die ongelowiges ook nie die dood nie. Terwyl Paulus wag om te hoor of hy deur die owerheid tereggestel sal word, maak hy ‘n verdere radikale stelling. Hy sê dat om te sterwe vir hom wins is (v. 21)! Hoe kan hy so iets sê? Hy verklaar self wat hy bedoel. Hy sê “… ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (v. 23). Die dood kanselleer nie die heerlike verhouding tussen gelowiges en Christus nie. Die oomblik as ek sterf, is die verhouding “verreweg” beter.
• Ek sal “met Christus” wees – bewustelik in sy teenwoordigheid (geen sieleslaap!).
• My “heen gaan” is ‘n verlaat van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning (v. 23. Vgl. ook 2 Kor. 5:1).
• Die oomblik as ek sterf, kom ek by Christus tuis (v. 23. Vgl. ook 2 Kor. 5:8).
• Terwyl ek uitsien na die heengaan, ag ek my roeping hier steeds van uiterste belang (vv. 22-26).