Posted by Admin

4 Augustus 2019               Lees Handelinge 13:1-12                                       Teks: vers 4a

Geroep en gestuur om te bevry.

Omring deur slawe van die duisternis.

‘n Mens kan baie dinge sê van die ongelowige mense met wie ons saamleef. Hulle kan goeie mense wees, hulle kan vyandig, arrogant, meerderwaardig of aanvallend wees. Daar is egter een beskrywing wat vir elke ongelowige geld.  Ongelowiges is slawe van die duisternis. Ons lees in Handelinge 13 van ‘n ongelowige wat ‘n “verstandige man” was, die prokonsul Sergius Paulus. Hy was, soos enige mens, iemand wat probeer sin maak het van die lewe, probeer verstaan het waarom dit in hierdie lewe gaan.

Hierdie verstandige man het hom egter in sy soeke na insig op ‘n Joodse towenaar verlaat. Sulke towenaars het daarop aanspraak gemaak dat hulle deur astrologie (‘n geloof dat gebeure op aarde bepaal word deur die stand van hemelliggame) en deur die oproep van die geeste van voorvaders kan vasstel wat in die toekoms gaan gebeur. Dit is hierdie towenaar wat die prokonsul lei en hom beïnvloed in sy manier van dink en optree.  Wie werklik agter die vals lewens- en wêreldbeskouing was wat die towenaar verkondig het, word duidelik wanneer Paulus die Joodse towenaar met die sprekende naam Bar-Jesus (seun van Jesus/Josua/Verlosser), “seun van die duiwel” noem. Wanneer hierdie Bar-Jesus dan deur blindheid getref word – die duisternis hom oorval – word die geestelike blindheid waarin hy as werktuig van die Bose verkeer het, in sy fisiese toestand sigbaar. Ongelowiges is in hulle ongeloof slawe van die duisternis. Verstaan ek die ware nood van die ongelowige?

Geroep en gestuur.

Die plaaslike kerk in Antiogië was waarlik wys. Hulle het begryp dat die mense wat in die duisternis verkeer, nie aan hulle lot oorgelaat moet word nie. Barnabas en Paulus, wat nog wonderlike werk in die gemeente kon doen, word nie terug gehou wanneer hulle bekend maak dat hulle geroep is om na ‘n wêreld wat gevange is, te gaan nie. Die gemeente het hulle die hande opgelê, hulle ten volle met die roeping van hierdie manne vereenselwig. Die Heilige Gees se werking is duidelik sigbaar in die omgee van die gelowiges, die bereidheid om op te offer en die vaardigheid in die uitvoer van hulle roeping (vgl. v. 2, 4 en v. 9). Volg ek in hierdie opsig die Gees?

Gerig op bevryding.

Gelowiges word geroep en gestuur om te bevry. Die bose invloed van Bar-Jesus op die prokonsul word gestuit. Die Prokonsul sien voor sy oë hoe die valsheid wat aan hom voorgehou is, ontmasker word. Die man wat beweer het dat hy kan sien, selfs die toekoms kan sien, die word blind. Hy is nie een wat kan lei nie.  Hy moet gelei word. Die prokonsul word bevry, hy sien. Hy het geglo (v. 12). Van die bevryding waartoe ons geroep en gestuur word, leer ons uit die gebeure op Pafos die volgende: i) Jesus Christus, die Een aan Wie alle mag behoort, moet verkondig word, ii) die verkondiging is persoon-gerig, iii) dit waarsku en roep om God se genade te aanvaar en iv) dit is die Heilige Gees wat die bande van duisternis in ‘n mens verbreek.