Posted by Admin

29 September 2019.      Gen. 27:46-28:22 en Joh.1:43-51          Teks: Joh. 1:51

Opreg vol verwondering in my geloof, aanbidding en verheerliking van die Here.

Inleiding: Is my geloof, aanbidding en verheerliking van die Here gevul met verwondering? ‘n Mens merk by sowel Filippus as by Natanael, ná hulle ontmoeting met Jesus, ‘n diepe verwondering. Filippus sê: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het.” Natanael roep uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus laat die saak egter nie daar nie. Hy lei hulle nog verder op hierdie pad. Hy sê vir Natanael: “Jy sal groter dinge sien as dit” en vir al die hoorders: “van nou af sal julle die hemel geopend sien…”

Om die hemel geopend te sien.

Wat is die groter dinge wat die gelowiges sal sien en wat beteken dit dat hulle die hemel geopend sal sien? Jesus verduidelik dit nader wanneer hy by die woorde “van nou af sal julle die hemel geopend sien” ook byvoeg: “en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.” Hierdie woorde van Jesus herinner aan dit wat met Jakob gebeur het toe hy vir sy broer gevlug het. Ook toe het die engele van God op en neer beweeg, naamlik na Jakob toe – was die hemel dus in ‘n sekere sin ook oop. Maar baie meer as dit wat toe gebeur het, sal die gelowiges sien noudat Jesus met sy verlossingswerk begin het. Wat is nou anders?:

  1. Anders as Jakob kom Jesus God nie as voortvlugtige teë nie.

Jakob moes, nadat hy bedrog gepleeg het, van sy broer wegvlug. Hy vlug eintlik van die sonde wat hy gepleeg het, weg. As voortvlugtige kom hy nie sy broer teë nie, maar God. Die wonder is dat God die bedrieër nie straf nie. Die genade van God oor hierdie mens is die wonder! As gelowiges sien ons nog meer. Ons sien hoe dit moontlik is dat die verdiende oordeel by sondaarmense verbygaan. In die geloof sien ons hoe Jesus God in die verhore en die kruisiging nie as voortvlugtige teëkom nie, maar as die een ware sondelose mens uit die geslag van Israel. Hy is die een Israeliet wat vryspraak verdien. Anders as die bedrieër, Jakob, ontvang Hy geen genade nie. Hy dra die oordeel van hulle wat aan Hom behoort. Gevul met verwondering aanbid en verheerlik ek my Here!

  1. Anders as Jakob rig Jesus nie slegs ‘n gedenksteen op nie.

Jakob was, ná dit wat met hom gebeur het, vol ontsag vir God. Hy het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.” Hy het die plek Bet-el (huis van God) genoem, ‘n klippilaar daar opgerig en gesê dat dit ‘n tempel sal wees.

Dit wat Jakob ervaar het, is maar ‘n floue skadu van dit wat in Jesus Christus se koms ‘n werklikheid geword het. In Hom het God onder ons kom woon en het ons sy heerlikheid aanskou (Joh. 1:14). Deur die versoening wat Hy bewerk word ons die tempel van God.  Laat ons, gevul met verwondering, God aanbid en verheerlik.

  1. Anders as Jakob wat op God se regering moes vertrou, is Jesus self God se ewige Regeerder.

Jakob begryp ná sy droom en die opvolgende gebeure hoe afhanklikheid hy van God se regering is.  Hy begryp dat God die Een is wat Hom moet bewaar op die weg wat hy moet gaan, aan hom brood moet gee om te eet en klere om aan te trek (vgl. Gen. 28:20). Hy maak selfs aan God ‘n gelofte in die verband. Wanneer Jesus nader verduidelik wat Filippus, Natanael en ander gelowiges “van nou af” sal sien, noem Hy Homself met ‘n baie spesifieke Naam: “Seun van die mens.” Jesus is daardie hemelse Persoon waarvan ons in Daniël 7 lees – die Een aan Wie God die ewige koningskap en heerskappy sou gee. In sy prediking en wonderwerke sou die gelowiges iets van sy regeermag sien. Gehoorsaam aan sy Vader behaal hy deur lyding heen die oorwinning. Hy ontvang die ewige heerskappy. Dit is onder hierdie Verlosser se heerskappy wat ons leef. Loof God vol verwondering, Gelowige.