Posted by Admin

Markus 6:14-16 & Lukas 23:6-12

“9 Hy het Hom uitvoerig ondervra, maar Jesus het hom glad nie geantwoord nie.”

JESUS SE STILLE ANTWOORD OP BYGELOOF

Wie was koning Herodes? Sy offisiële titel was viervors. In die praktyk het hy as ‘n koning regeer. Die koninkryk van Herodes was die gebiede Galilea en Perea. Dit is die plekke waar Jesus grootgeword het. As koning dink Herodes dat hy mag het oor lewe en dood. So regeer hy. Johannes die doper het hy ‘n kop kleiner gemaak. Maar dan hoor Herodes van Jesus. Van sy prediking en sy wondertekens. Dan spreek sy gewete hom aan: “Johannes, wat ek laat onthoof het — dit is hy wat opgewek is.”

Die nuuskierigheid in bygeloof

Herodes was baie dubbelsinnig. Aan die een kant was hy toegewy aan die Joodse volk, aan ‘n lewe onder die wet van Moses. Aan die ander kant was hy verknog aan ‘n Griekse leefstyl, sy regeerpraktyk was wêrelds. Hierdie beide gedagtes is ook aanwesig in sy hof – die een groep sê Jesus is een of ander profeet (Joods) en die ander groep sê dit is Johannes die Doper wat opgestaan het, want daar is kragte wat in hom werk (Grieks). Met dit in gedagte is Herodes nuuskierig om Jesus te sien. Daarom is hy bly toe die geboeide Man van Smarte voor hom op Goeie Vrydag staan.

‘n Stille antwoord op bygeloof

‘Hy het Hom uitvoerig ondervra, maar Jesus het hom glad nie geantwoord nie.’ Herodes wou hê dat Jesus ‘n teken of ‘n wonder moet doen. Maar dit gebeur nie. Jesus kyk Herodes aan. Twee konings teenoor mekaar: ‘n seun van Esau en ‘n seun van Jakob. Die saad van die slang en die saad van die vrou. Een geboei en magteloos en die ander op sy troon. Maar wie regeer op die oomblik? Wie is die magtigste van die twee konings? Dit is Koning Jesus Christus. Hy bepaal die weg. Hy is in beheer wat gebeur. Hy regeer. En daarom ag Hy dit nie nodig om vir Herodes ‘n antwoord te gee nie. Hy swyg. Hy het hom glad nie geantwoord nie. ‘Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie.’ (Mattheus 7:6)

Die gevolg van bygeloof

‘Juis op dié dag het Herodes en Pilatus, wat vroeër vyandiggesind teenoor mekaar was, vriende geword.’ Hulle wat God soek, sal God net vind deur die enigste Weg. Die Weg van waarheid en lewe. Deur bygeloof kan God nie bereik word nie. Daar is net een pad en dit is Jesus Christus. Herodes (bygeloof) en Pilatus (ongeloof) is beide op dieselfde lyn. ‘Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan.’ (Johannes 6:44)

Gesprekspunte

  1. Wat trek mense waarlik na Christus toe? Hoe hou dit verband met ons uitdra van die evangelie?
  2. Wat staan sentraal in jou geloofslewe? Watter dinge in jou lewe trek jou aandag van die Here af weg?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com