Posted by Admin

Romeine 7
HK Sondag 34

‘Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.’

JOU HELE HART BEHOORT AAN DIE HERE

Die wet van die Here hoor ons elke Sondag hier in die kerk. Hoekom is dit so? Waarom is dit so ‘n belangrike onderdeel in ons liturgie? Hoekom is die nodig dat ons dit elke Sondag weer hoor? Dit is aktueel in die lewe van ’n christen. Dit is uiters belangrik. Want die mens vergeet. Deur die sonde vergeet hy om dit te doen wat reg is. Ons weet wat reg is. Dit is nie waaroor dit gaan nie. Ons ken die wet van die Here. Die meeste van ons uit ons koppe uit. Maar tog vergeet ons elke week om daarvolgens te leef. Elke week oortree ons dit weer. Doen ons weer sonde. Daarom is dit so belangrik om elke week die tien gebooie van God te hoor. Dit hou ons op die pad van dankbaarheid. Dit roep ons deurlopend tot bekering. Dit lei ons in die doen van goeie werke. Deur die wet toon die Here aan, hoe ons vrugte van die geloof kan dra.

Die instelling van die wet

Die wet begin nie met die eerste gebod nie, maar met ’n inleiding. Daarin stel God Hom voor as die Bevryder van sy volk. Hierdie aanhef is vir ons belangrik. Want elkeen van die tien gebooie word hieraan verbind. Elkeen is direk daaraan verbonde, soos sleutels aan ’n sleutelring. As Bevryder wil God hê dat sy volk vry bly. God gee nie die wet, om die nuwe vryheid van die volk te beperk nie. Nee, deur die wet kry hulle vryheid, hande en voete. Deur die wet, kan dié vryheid uitgeleef word.

Die inhoud van die wet

Die Here gee vir ons sy wet op twee tafels. Die wet is verdeel in twee dele. Op die eerste tafel,  vier gebooie wat aantoon hoe ons in verhouding met God leef. Op die tweede tafel, ses gebooie wat aantoon hoe ons in verhouding met ons naaste leef. Agter elke gebod is die beginsel van God se liefde. Dit is die grootste gebod – Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself.

Die bedoeling van die wet

Sonder die wet is daar nie bekering moontlik nie. Hoe kan jy regmaak, as jy nie weet dat jy verkeerd is nie? Paulus beskryf die bedoeling van die wet duidelik in Romeine 7. Die wet lei ons tot bekering. Die wet stel ons in staat om ’n dankbaarheidslewe te lei. Dit is die lyne wat die dankbaarheidslewe aantoon. Was daar nie ’n wet nie, dan het ons nie geweet hoe om ons dankbaarheid teenoor God te betoon nie.

Gesprekspunte

  1. Hoekom is dit belangrik dat ons elke Sondag die wet van die Here tydens die erediens hoor?
  2. Wat is die verhouding tussen die wet en die evangelie?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com