Posted by Admin

Eksodus 20:18-21 & Handelinge 2:1-13

‘Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het…En almal is vervul met die Heilige Gees…’

Pinkster – die doel word bereik

Pinkster is die dag waarop ons die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. Dit bly altyd aangrypend wat daar gebeur. Tog is dit ook iets onaantasbaar. By die kruisiging, opstanding en Hemelvaart gaan dit oor ‘n fisiese Persoon. Iemand wat jy kan sien en aanraak. By Pinkster is dit nie moontlik nie. Jy kan nie die Gees aanraak of sien nie. Wat gebeur nou op hierdie dag? Die Pinksterdag is die vyftigste dag (die dag na sewe keer sewe dae). Pinkster is die Joodse oesfees. Dit loop saam met die gee van die wet. Die betekenis van die fees – die oes is binne, die doel is bereik. In die lig hiervan sien ons ook Pinkster. Die doel word bereik. God stort sy Heilige Gees uit. In sy volheid kom God in ons woon. ‘n Besondere oomblik in God se heilsgeskiedenis.

Verwagting

‘Hulle het almal eensgesind in gebed volhard…’ (1:14) Nadat Jesus opgevaar het, wag hulle in Jerusalem vir die uitstorting van die Heilige Gees. Onverwags word Hy dan uitgestort. Die mense vra – ‘Wat beteken dit tog?’ Ander het gesê: ‘Hulle is vol soetwyn.’ Vandag verskil mense se verwagtings. Ons sien dit in al die verskillende kerke. Sommige verbind die Gees met opvallende gawes, kragte en spesiale gebeurtenisse. Ander verbind Hom met die gewone Christelike lewe – met swakheid en tog vol vertroue wees. Die een fokus op die gawes van die Gees. Die ander kyk na die vrug van die Gees. Wat is die betekenis van Pinkster?

Verwarring

Onverwags gebeur dit. Dit word nadruklik gesê. Die soewereine God maak op sy tyd die hemel oop. Op sy manier. Op hierdie Pinksterdag gebeur dit weer met tekens. Baie vergelykbaar met toe die Here sy wet by Sinai gegee het. ‘n Hemelse geluid, ‘n hemelse vuur en ‘n hemelse taal. Dit is tekens met baie betekenisse. Die hemel gaan oop. Die Gees word uitgestort. Dit veroorsaak verwarring.

Vervulling

‘En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat…’ Vervul met die Heilige Gees praat die dissipels. Direk hierna hoor ons die preek van Petrus op Pinksterdag. Sy tema – God se groot werke in Jesus Christus. Vir Petrus beteken Pinkster –om oor Jesus te vertel en om mense na Jesus toe te bring.

Gesprekspunte

  1. Wat is die betekenis van die drie tekens: die hemelse geluid, vuur en taal?
  2. Wat beteken Pinkster vir jou? Wat is vir jou kenmerkend van die werk van die Heilige Gees?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com

Liturgie

Sb. 1-2:1,2,3
Ps. 51:1,8
Ps. 9:1,7,10
Sb. 8-1:1,2
Ps. 23:3
Ps. 118
Ps. 68:1,9