Posted by Admin

Wat jy in Christene sien, is beslis nie wat jy kry nie.

Moenie meer en meer word soos die wêreld jou sien nie.

Met gelowiges kry jy baie meer as wat jy sien.  Voor hom sien Farao twee slawe. Hy hoor by hulle dat die HERE van hom eis om die volk te laat trek sodat hulle vir die HERE ’n fees in die woestyn kan hou. Hy vererg hom vir hulle vermetelheid. Hierdie Israeliete is immers mense wat hy in sy mag het en hy weet hoe om met sulke mense te werk. Hy weet hoe maklik hulle verdeeld (vgl. 5:15), opstandig (vgl. 5:22) en verslae (vgl. 6:8) raak. Voor hom sien Farao in Moses en Aäron maar net verteenwoordigers van ’n slawevolk. Hy hanteer hulle daarom ook soos mense wat nie net uiterlik slawe is nie, maar ook in hulle harte slawe is. Hy gee aan hulle totaal onbillike opdragte en straf hulle streng wanneer hulle dit nie uitvoer nie.

Moses en Aäron, en ook die volk, begin in reaksie op hierdie druk al hoe meer optree soos die farao verwag het.  Hulle word al hoe meer wat Farao in hulle gesien het. Die volk aan wie die HERE pas weer sy beloftes  bevestig het, tree meer en meer soos mense met slaweharte op.  Waak, gelowige, dat jy nie meer en meer word wat die wêreld van jou dink nie.

Word meer en meer wie God jou in Christus gemaak het

Die Here laat Moses en die volk nie toe om met slaweharte op ’n slawepad voort te strompel nie. Hy lei hulle om meer en meer te word wie hulle is – meer en meer te word wie God hulle gemaak het.

Helderheid oor wie ek is, begin by helderheid oor Wie God is.
Farao vra: “Wie is die Here, dat ek na sy stem moet luister om Israel te laat gaan?” (5:2).  God laat in sy leiding aan Moses geen twyfel oor Wie Hy is nie. Hy is die Almagtige (6:2) en die God van die verbond (6:3, 6).

Om my ware toekoms te ken, moet ek God se onkeerbare plan ken.
Farao het ook ‘n plan met Israel gehad. Hulle moes in sy diens bly – dwangarbeid verrig (5:4). Moses word egter aan Gód se plan met die volk herinner: “Ek sal julle bring na die land, waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan Abraham, aan Isak, en aan Jakob te gee, en Ek sal dit aan julle as eiendom gee. Ek is die Here.” 

Om swaarkry te verwerk, moet ek anders as die wêreld oor lyding dink.
Dit is duidelik dat die volk (6:8), die opsieners (5:21) en selfs Moses (5:22-23) glad nie anders as Farao (vgl. 5:9) oor lyding gedink het nie. Die Here wys Moses egter daarop dat Hy nie apaties is teenoor die lyding van sy volk nie (5:4), dat Hy ‘n doel het met die lyding (5:5-6) en dat Hy hulle lyding op oorwinning sal laat uitloop (5:5).

Hulle wat meer en meer word wie God hulle gemaak het, laat hulle nie tot swye bring nie.
Farao het alles in die stryd gewerp om Moses en Aäron swygend na hulle werk terug te stuur. Hy wou hulle dwing om mense te wees wat deur die dag stene maak, vanaand rus en more weer stene maak. God stuur Moses, ondanks al sy besware, terug na die farao toe. Hy moet in die Naam van die Here aan die farao opdrag gaan gee om die volk te laat trek.