Posted by Admin

Onthou die sout!

Wanneer jy kosmaak en jy vergeet om sout in te gooi, gaan jy dit nie agter kom voor jy nie die kos proe nie.  Die kos gaan nog steeds lekker lyk en ruik, maar met die eerste hap, gaan jy proe iets kort.  Sout is belangrik in kos, ʼn klein bietjie kan ʼn groot verskil maak. 

1. Onthou die sout in die offer.

ʼn Spysoffer was nie ʼn verpligte offer nie, dit was ʼn dankbaarheidsoffer. 

Christus het al die offers van die Ou Testament vervul, maar tog kry ons die oproep in Romeine 12:1-2 om nog steeds ons lewe as offer vir die Here te gee en dit uit te leef.

In dankbaarheid vir God se groot ontferming gee ons onsself as ʼn dankbaarheidsoffer.  Nie ʼn offer net soos ons wil en lus kry nie, maar lewend, heilig en volgens wat God wil.

Onthou die sout in jou dankbaarheidslewe! Sout was baie duur en het hierdie offer soveel meer smaakliker gemaak.  Sit daardie ekstra bietjie in jou dankbaarheidslewe.

2. Onthou die sout-verbond.

Jy moenie net onthou om sout in te gooi nie, die sout herinner jou aan die verbond van die Here.

Omdat sout so duur en kosbaar was, is dit in die Ou Nabye Ooste gebruik saam met die sluit van ʼn kontrak.  Beide partye het saam ʼn bietjie sout geëet het. 

So is die sout ʼn herinneringsteken aan die verbond wat die Here met die volk gesluit het.  Numeri 18:9 word die verbond ʼn sout-verbond genoem.  Dit dui veral ook op die ewigheid van die verbond van die Here.  

Met Nagmaal en Doop word ons ook deur die tekens herinner aan die verbond van die Here. 

Wanneer jy dus weer sout oor jou kos of braaivleis gooi- dink aan die verbond wat die Here met jou doop aan jou beseël het.  Die verbond wat soveel kosbaarder as sout is en soveel meer in jou lewe bring.