Posted by Admin

Lukas 19:1-10
Dordtse Leerreëls 5:12

Maar Saggeus het gaan staan en vir die Here gesê: “Kyk, Here, ek gee die helfte van my besittings aan die armes, en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit viervoudig terug.”

DIE VRUG VAN DIE VOLHARDING

Dit is baie hartseer as iemand sê hy is ‘n christen, maar sy lewe getuig nie daarvan nie. Wanneer iemand met sy mond sê – Ek glo dat Jesus Christus my Verlosser is, maar met sy lewenstyl bewys hy die teendeel. Leef hy nie vir een oomblik in gehoorsaamheid teenoor die Here nie. Naamchristene is oral om ons heen. As jy deur Christus verlos is. As die Heilige Gees in jou woon en werk. Jy deur ‘n ware geloof deel van Christus geword het. Dan is dit vir jou onmoontlik om ‘n goddelose lewenstyl te hê. Deur die werk van die Heilige Gees verander jou identiteit. Jou lewenstyl word soos wat die Here voorskryf. In Lukas 19 het ons gelees van Saggéüs. Wat daar gebeur sluit direk hierby aan. Ons sien ‘n nuwe identiteit en lewenstyl.

Die gevaar van sorgloosheid

Die Remonstrante is van mening dat die leer van die volharding verkeerd is. Hulle sê dit is baie gevaarlik. As die gelowiges weet dat hulle sal volhard, sal dit hulle hoogmoedig en sorgloos maak – Vir die gelowige maak dit dus nie saak of hy sondig nie, want hy weet sy sondes is vergewe. In die Woord van die Here sien ons dat dit nie so werk nie. Inteendeel, by Saggéüs was daar ‘n radikale omkeer. Hy was sorgloos, maar na sy ontmoeting met Jesus is hy dit nie meer nie.

Die wortels van die vrug

In die belydenis word ‘n paar wortels genoem. Sake waaruit die vrugte van die geloof voortspruit. Dit is (1) nederigheid, (2) kinderlike vrees, (3) ware vroomheid, (4) volharding in alle stryd, (5) vurige gebede, (6) standvastigheid onder die kruis, (7) standvastigheid in die belydenis van die waarheid en (8) die standvastigheid van ‘n blywende vreugde in God.

Die prikkel tot dankbaarheid

Die leer van die volharding bring ons by dankbaarheid. Dit is onmoontlik vir iemand wat deur die geloof in Christus ingelyf is, om nie vrug te dra nie. Wie glo dat Jesus Christus sy Redder is, sal dankbaar wees. Dankbaarheid is in die lewens van die gelowiges sigbaar. In Lukas 19 gee die Here vir ons die bewys dat dit inderdaad so is.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com