Posted by Admin

Lees: Psalm 131         Teks: vers 2 Sing: Ps. 118:1, 2; Ps. 40:4, 5; Ps. 61:2, 3.

Kom by die Here tot bedaring soos ‘n gespeende kind by sy ma.

As daar dinge in u lewe gebeur wat u vrede verwoes, slaag u daarin om tot bedaring te kom? Kan ons soos Dawid sê: “Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak”, of is dié dinge waarvan Dawid in vers 1 praat, meer op ons van toepassing?  Maak ons ons dus besorg oor dinge wat bo ons vermoë is? Is ons angstig, gejaagd, gedrewe en onvergenoegd? God openbaar aan ons in Ps. 131 waar die gelowige werklik tot bedaring kan kom. Laat ons mooi luister na die beeld wat Dawid in vers 2 aan ons voorhou. Hy sê hy het sy siel tot bedaring gebring; soos ’n gespeende kind by sy ma, soos ’n gespeende kind is sy siel in hom.

Die uiterlike dinge wat ons najaag, bring nooit bedaring nie.

Deur te verwys na ’n kind wat reeds gespeen is en wat by sy ma is, beklemtoon Dawid dat die kind nie by sy ma is omdat hy wil drink nie. Hy wil iets meer as die uiterlike hê. Hierdie is iets wat die gelowige baie goed moet besef: al vind ek die dinge wat ek met soveel ywer najaag, sal dit nie die innerlike angstigheid, gejaagdheid, gedrewenheid en onvergenoegdheid wegneem nie. Prestasies en sukses bring nie innerlike rus en kalmte nie.  Daar sal maar altyd weer dinge wees wat buite my bereik is waaroor ek onvergenoegd is. Om dus tot bedaring te kom, eis van ons dat ons met eerlikheid sal sê: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is” (v.1).  

Net by God kom ek tot bedaring.

Die gespeende kind verwag nie kos van sy ma nie. Wat vind hy dan wel by sy ma? Dink net eers vir ’n oomblik na oor ’n kind wat na sy ma toe hardloop wanneer iets hom hewig ontstel het.  Sy ma neem hom op haar skoot en hou hom vas totdat hy bedaar. In die liefdevolle verhouding met sy ma vind die kind die geborgenheid waarvan hy losgeruk is deur die dinge wat hom onstel het. Die bedaring is nie daarin geleë dat sy ma die omstandighede wat hom onstel het, gaan verander nie. Hy bedaar by sy ma self, in haar vashou, in haar liefde, in die geborgenheid wat sy gee. So mag die gelowige by die Here geborgenheid vind. Let maar op hoe ons Here Jesus as mens dikwels in die tyd hier op aarde hierdie geborgenheid by sy Vader gaan opsoek het. Hierdie geborgenheid is Hom egter ontneem. Hy is, vanweë ons sondes, deur God verlaat sodat ons toegang kon kry na die Vader – dat ons seker mag wees van die Vader in die hemel se vashou, liefde, omgee en versorging. Vind hierdie geborgenheid by God, gelowige. Kom by God Self tot bedaring.

Wanneer ek by God tot bedaring gekom het, leef ek ook anders.

Bly die kind wat by sy ma tot bedaring gekom het, op sy ma se skoot?  Nee, met die geborgenheid wat hy gevind het, gaan hy terug om dié dinge wat hom ontwrig het, te hanteer. Innerlik is hy egter nou anders. Wie die vashou van die Here, die geborgenheid by Hom en sy liefde goed ken, deins nie terug vir die lewe nie. Ek doen dinge egter nie meer in angstigheid en gedrewenheid asof my menswees op die spel is nie. Die geborgenheid by God gee vir my sekerheid. Ek is seker van my Vader se leiding.  Ek is seker van die krag wat Hy aan sy kinders gee. My dade is nie meer ’n bewys van my eie waarde nie.  My dade is ’n antwoord – ’n gemotiveerde antwoord – op God se liefde aan my.