Sketse

19 Mei 2019                                     Lees Josua 4:1-5:1                     Teks: 4:24-5:1

Beskermend by ons, maar dan toewyding en ‘n besef van sy teenwoordigheid.

Die heerlike versekering wat Josua en Israel gehad het dat die Here by hulle is (vgl. Jos. 1:1-9), mag ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges op ‘n besondere manier ook ons eie maak. Die versterking wat Josua ontvang wanneer hy die man met die ontblote swaard sien, naamlik dat die Here deur sy mag die oorwinning sal behaal, kan ons ook vir onsself toeëien. Die Here is inderdaad beskermend en oorwinnend by sy kinders. Wanneer ‘n mens egter noukeurig oplet na wat tussen Josua en die man met die swaard gebeur, besef jy dat daar baie meer geopenbaar word as die beskerming en oorwinning van die Here.

‘n Lewe van toewyding.

Toe Josua die man met ‘n ontblote swaard sien, wil hy dadelik weet aan wie se kant hierdie man is – aan Israel se kant of aan die vyand se kant. Die man laat hom egter nie dwing om een van hierdie twee moontlikhede te kies nie. Hy antwoord net “nee!” (14a). Hy maak egter ook bekend dat hy die aanvoerder is van die Here se leër.

Hierdie aanvoerder laat hom nie deur Josua as deel van Josua se troepe indeel nie. Die vraag is nie of die aanvoerder van die Here aan Josua en Israel se kant is nie, maar of Josua en Israel in dit wat nou voorlê, aan die Here se kant is. Sal Josua en Israel met die inname van die Beloofde Land werklik gehoorsaam wees aan Hom wat aan hulle die land gee? Sal hulle daarop aanspraak maak dat die Here aan hulle kant is, maar dan tog hulle eie weg volg (vgl. Josua 6 met Josua 7)? Josua se reaksie wanneer die man openbaar dat hy die Here se leëraanvoerder is (v. 14b), getuig van ware toewyding. Lei die besef van die Here se beskerming ook in my lewe tot gehoorsame toewyding aan die Here alleen?

‘n Lewe onder die besef van God se magtige teenwoordigheid.

Josua toon nie alleen sy toewyding nie. Hy is ook bereid om tot aksie oor te gaan. Hy wil dat die man vir hom sê wat nou moet gebeur (v. 14b).  Wat moet hy wat deur die Here as aanvoerder van Israel aangestel is (vgl. Josua 1:1-9), in die aanval op Jerigo doen? Watter praktiese plan kan die leëraanvoerder van die Here aan hom bekend maak? Josua wil strategie praat. Die leëraanvoerder bespreek geen strategie nie. Aan Josua word iets geopenbaar oor die grond waarop hy staan. Dit is “heilige grond” – grond dus wat aan die Here gewy is. In ten minste twee opsigte is dit verrassende inligting.  Josua is nie in Gilgal waar die klipstapel vol betekenis is nie (vgl. Josua 2-3). Josua is in Kanaän, die land van die heidene met hulle gode.

Deur die man met die ontblote swaard maak die Here bekend dat Hy in sy heiligheid, heerlikheid en almag oral teenwoordig is – ook daar waar dit lyk of gode regeer.

Van Josua word ‘n duidelike reaksie verwag. Hy moet sy skoene uittrek. Skoene wat die voete beskerm, was ook ‘n simbool van waardigheid en vermoëns. Onder die besef van God se magtige teenwoordigheid, trek Josua, daar in die land waar dit lyk of die gode regeer, sy skoene uit. Hy en die volk moet in hierdie land elke oomblik leef onder intense besef van God se magtige teenwoordigheid.  Leef ons, in wie die Heilige Gees woon, wat gekoop is met Jesus Christus se bloed en wat God as ons Vader ken, met ons skoene uitgetrek?


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *