Posted by gbroos

LUTHER SE 95 STELLINGS 31 OKTOBER 1517 WITTENBERG DUITSLAND.[1]

Uit liefde vir die waarheid en met die begeerte om die waarheid openbaar aan die orde te stel,

sal daar in Wittenberg oor die volgende stellings gedebatteer word onder die voorsitterskap van

die eerwaarde monnik Martinus Luther, met ’n magistergraad in Vrye kunste (geestes wetenskap)

sowel as in die heilige teologie, tans volle professor te Wittenberg. Daarom versoek hy die mense wat

nie teenwoordig kan wees en mondelings met ons kan debatteer nie, om dit in hulle afwesigheid skriftelik te doen.

In die Naam van ons Here Jesus Christus.

  1. Omdat ons Here en Meester Jesus Christus sê: “Doen boete” (Bekeer julle) (Matt. 4:17) wou Hy gehad het dat die hele lewe van gelowiges ’n lewe van boetdoening (bekering) moet wees.
  1. Hierdie woord (bekering)* kan nie in die betekenis van die sakramentele boetedoening verstaan word nie. (Dit is in die sin van bieg en vergoeding wat deur die amp van die priester uitgevoer word nie.)
  1. Nogtans beteken dit, (bekering volgens Matt. 4:17) nie slegs ’n innerlike bekering nie; Eintlik is die innerlike bekering niks werds nie as dit nie uiterlik op baie wyses die afsterwing van die vlees bewerk nie.
  1. Dus bly die straf daar, net so lank as wat die vyandskap teen jou self bly (Dit is die ware innerlike bekering) Dit beteken dit bly tot met die binnegaan in die hemelryk in.
  1. Die pous kan en wil geen ander soort straf kwytskeld as die soort straf wat hy volgens sy eie besluit of volgens die kerkreg opgelê het nie.
  1. Die pous kan sondeskuld op geen ander manier vergewe nie as om net te verkondig en te bevestig dat dit deur God vergewe is nie. Die pous kan tog sekerlik net vergewe in die sake waarin hý die reg voorbehou. Minag ’n mens hom hierin, dan bly die (hierdie tipe) skuld verseker voortbestaan.
  1. Eintlik vergewe God nie een se skuld wat hom nie terselfde tyd aan die priester as God se verteenwoordiger geheel en al deemoedig onderwerp nie.
  1. Die kerkregtelike boetebepalings is net van toepassing op mense wat lewe. Mense wat gesterf het, mag nie aan kerkregtelike bepalings onderwerp word nie.
  1. Die Heilige Gees bewys deur die pous sy goedheid vir ons daarin dat wanneer die pous dekrete uitvaardig, hy elke keer die dood en uiterste noodsaak uitsluit (uit sy regsbevoegdheid uit)
  2. ’n Priester wat vir mense wat gesterf het nog steeds kerkregtelike boetestraf laat voortbestaan tot binne in die vagevuur, tree onkundig en sleg op.
  1. Die onkruid – dit is die verandering van kerkregtelike boetedoening in boetestraf tot binne in die vagevuur – is heel duidelik gesaai gewees omdat die biskoppe aan die slaap was. (Matt. 13:25)
  1. Vroeër was die kerkregtelike boetedoening nie ná nie, maar vóór die opheffing van sondeskuld opgelê, dit is om die opregtheid van die berou te toets.
  1. Deur die dood word ʼn mens wat sterf van alles vry; ook vir die kerkregtelike bepalings is ʼn mens klaar dood en regtens is ʼn mens van hierdie bepalings onthef.
  1. Die onvolmaakte goedheid of liefde van ’n sterwende mens, maak ’n mens bang en inderdaad is ons meer bang hoe minderwaardiger die goedheid of liefde was.
  1. Hierdie vrees en ontsteltenis is alleen genoeg (sonder om van ander dinge nog te praat) om die smart van die vagevuur op te roep want dit is baie naby aan die verskrikking van wanhoop.
  1. Dit lyk asof ’n mens die hel, die vagevuur en die hemel van mekaar kan onderskei net soos wat ʼn mens wanhoop, naderende wanhoop en sekerheid van mekaar kan onderskei.
  1. Daarom lyk dit noodwendig dat vir die siele in die vagevuur op dieselfde wyse hulle ontsteltenis minder word en hulle liefde groei.
  1. Daarom lyk dit ook nie bewysbaar óf deur ons verstand óf deur bewyse uit die Skrif nie, dat hierdie siele hulle buite ’n posisie bevind om verdienste te kan verwerf of nie in die liefde te kan groei nie.
  1. Dit lyk ook nie of dit bewys kan word, of ten minste is dit nie vir almal bewese nie, dat hierdie siele van hulle saligheid gewis en seker is, net omdat ons daarvan ten volle seker is.
  1. Met die “volkome kwytskelding van alle strawwe” bedoel die pous nie eenvoudig alle strawwe nie, maar hy bedoel net die strawwe wat hy self opgelê het.
  1. Daarom fouteer alle aflaatpredikers wat sê dat deur die aflaat van die pous word die mens vry van alle straf en word ’n mens salig.(gered)
  1. Dit is veel eerder so dat die pous nie ’n enkele straf waarvolgens die siele tydens hulle lewe boete moes oor gedoen het volgens kerkordelike bepalings, in die vagevuur kan kwytskeld nie.
  1. As aan enige iemand die kwytskelding van alle straf toegestaan kan word, dan kan dit net aan die volmaakste mense toegestaan word en dit is dan net aan ʼn baie klein klompie mense.
  1. Die onvermydelike gevolgtrekking hieruit is dat die grootse deel van die volk bedrieg word deur hierdie vertonerige belofte van algehele kwytskelding van straf vir almal.
  1. Dieselfde gesag wat die pous oor die algemeen oor die vagevuur het, het elke biskop en elke sieleversorger (geestelike werker) in sy eie gebied of in besonder binne sy eie gemeente.
  1. Die pous tree regtig reg op wanneer hy die siele (in die vagevuur) vergifnis laat toekom, nie op grond van die sleutelmag nie (die sleutelmag kom nie vir die pous hiervoor toe nie) maar net by wyse van voorbidding.
  1. Mense wat sê: “Wanneer die muntstuk in die geldtrommel klingel vlieg die siele dadelik uit die vagevuur uit” preek leerstellings van mense.
  1. Wat wel seker is, is dat wanneer die muntstuk in die geldtrommel klingel winsgierigheid en hebsug kan toeneem; die voorbidding van die kerk hang egter slegs van beskikking van God af.
  1. Wie weet hoegenaamd of alle siele uit die vagevuur losgekoop wíl word? Met die heilige Severinus en Paskal (volgens vertelling) sou dit nie die geval gewees het nie.
  1. Niemand kan van die opregtheid van sy berou seker wees nie, nog minder kan ʼn mens seker wees dat jy volkome kwytskelding van sonde verkry het.

31.Net so min as wat daar iemand is wat ʼn opregte bekeerde is, net so min is daar iemand wat op die regte manier aflate koop. Dit gebeur uiters selde.

  1. Iemand wat glo dat sy saligheid verseker is (gered is) deur aflaatbriewe, is saam met die een wat hom so geleer het, verdoem.
  1. Vir diegene wat sê dat die aflate van die pous is die een enkele onskatbare gawe van God waardeur mense met God versoen word, moet ʼn mens uiters versigtig voor wees.
  1. Want die genade wat deur aflate verkry word, het slegs betrekking op die tipe strawwe wat gaan oor sakramentele genoegdoening en dit is net deur mense vasgestel.
  1. Die persone wat leer dat berou hoegenaamd nie nodig is om siele (uit die vagevuur) los te koop of om vergifnis deur bieg te verkry nie, is besig met onchristelike prediking.
  1. Elke Christen wat ware berou ervaar, het volkome kwytskelding van straf en skuld ook sonder dat hy ʼn aflaatbrief het.
  1. Elke Christen, of hy nou leef of reeds dood is, het deel aan al die heilsgawes van Christus en die kerk; God waarborg ʼn mens dit ook sonder dat hy aflaatbriewe het.
  1. Nogtans moet ʼn mens die kwytskelding en vergoeding deur die pous geensins gering ag nie. Omdat dit (soos ek gesê het) die verkondiging van die goddelike vergewing (vergewing deur God) is.
  1. Dit is uiters moeilik vir selfs die geleerdste teoloog om die ryke oorvloed van die aflate en die opregtheid van berou vir die volk gelyktydig aan te prys.
  1. Opregte berou soek en bemin (omhels) straf. Die oorvloed van die aflate daar teen oor skeld die straf kwyt en veroorsaak ʼn teensinnigheid daarteen, of ten minste gee dit aanleiding daartoe.
  1. Oor die apostoliese kwytskelding (van die pous) moet met versigtigheid gepreek word, sodat die volk nie verkeerdelik meen dit kry voorkeur bo ander werke – naamlik die goeie werke van die liefde nie.
  1. ’n Mens moet Christene leer dat dit nie die oortuiging van die pous is dat die koop van aflaatbriewe in enige opsig met barmhartigheidswerk gelyk gestel kan word nie.
  1. ’n Mens moet Christene leer dat dit beter is om aan armes iets te gee of aan behoeftiges iets te leen as om aflaatbriewe te koop.
  1. Want deur ʼn liefdesdaad groei liefde en word die mens beter; deur aflate daarteenoor word die mens nie beter nie, maar net vryer van straf.
  1. ’n Mens moet Christene leer: wie ʼn behoeftige sien en hom nie sy nood aantrek nie, maar in plaas daarvan aflate koop, verkry nie die kwytskelding van die pous nie, maar ontvang die toorn van God.
  1. ’n Mens moet Christene leer: As hulle nie baie geld het nie, is hulle verplig om dit vir die noodsaaklike huishouding uit te hou en op geen manier mag hulle dit op aflate mors nie.
  1. ’n Mens moet Christene leer: die koop van aflate is vrywillig, nie verpligtend nie.
  1. ’n Mens moet Christene leer: die pous het dit baie meer nodig dat, en wens ook dat daar ernstig vir hom voorbidding gedoen sal word met die toestaan van aflate, as wat hy die gerief van inkomste nodig het.
  1. ’n Mens moet Christene leer: die aflate van die pous is nuttig as jy nie jou vertroue daarin stel nie, maar dit is uiters skadelik as ʼn mens as gevolg van aflate jou ontsag vir God verloor.
  1. ’n Mens moet Christene leer: as die pous sou geweet het hoe die aflaatpredikers die geld invorder, sou hy liewers die Sint Pieterskerk tot as laat verval het, as om dit met die vel, vleis en bene van sy skape te gebou het.
  1. ’n Mens moet die Christene leer: die pous sal, omdat dit sy plig is, bereidwillig wees om van sy rykdomme af te staan aan – en as dit nodig is selfs die Sint Pieterskerk te verkoop – diegene wat nou in groot getalle van hulle geld deur aflaatpredikers afgerokkel word.
  1. Die vertroue om deur aflaatbriewe salig (gered) te word, is tevergeefs, selfs al gee die aflaat kommissaris, ja, selfs die pous hulle siele as waarborg daarvoor.
  1. Hulle wat reël dat die Woord van God in ander kerke (in ander gemeentes) heeltemal stil moet word (glad nie gepreek mag word nie) ter wille van die aflaatprediking (in ʼn ander gemeente) is vyande van Christus en die pous.
  1. Die Woord van God word beledig as in een en dieselfde preek vir die aflaat dieselfde of meer tyd ingeruim word as vir die Woord van God.
  1. Dit is onvermydelik dat dit die pous se oortuiging moet wees dat as ʼn mens die aflaat (wat die onbelangrikste is) met ʼn klok, ʼn optog en ʼn erediens vier, ʼn mens die Evangelie (wat die belangrikste is) met ʼn honderd klokke, ʼn honderd optogte en ʼn honderd eredienste sal vier.
  1. Die skat van die kerk waaruit die pous die aflaat uitdeel, is vir die volk van Christus nie bekend of nie presies voldoende duidelik of bekend nie.
  1. Dit is heel duidelik nie aardse skatte nie, want dit deel predikers nie so vrygewig uit nie, maar hulle gaar dit eerder net op.
  1. Dit kan ook nie die verdienste van Christus en die Heiliges wees nie, want dit bewerk sonder die pous altyd genade vir die innerlike mense soos wat dit kruisiging, dood en hel bewerk vir die uiterlike mense.
  1. Die Heilige Laurentus dui die armes as die skat van die kerk aan, maar hy praat maar net volgens die taalgebruik van sy tyd.
  1. Ons dui met volle oortuiging hierdie skat aan as die sleutelmag van die kerk (Hierdie skat is aan die kerk geskenk deur Christus se verdienste)
  1. Dit is egter duidelik dat vir die kwytskelding van strawwe en met die gevalle waarin die pous die reg voorbehou, die vryspraak van die pous alleen genoegsaam is.
  1. Die ware skat van die kerk is die hoogheilige Evangelie van die heerlikheid en genade van God.
  1. Hierdie skat is met goeie rede uiters gehaat, omdat dit van dit wat die eerste is die die laaste maak. (Matt.20:16)
  1. Die skat van die aflaat is daar teenoor met goeie rede uiters geliefd, omdat dit van dit wat die laaste is, die eerste maak.
  1. Daarvolgens is die skat van die Evangelie die net waarmee ʼn mens voorheen kosbare mense mee gevang het.
  1. Die skat van die aflaat daar in teen is die net waarmee ʼn mens vandag die rykdomme van mense mee vang.
  1. Die aflaat wat die predikers as die hoogste genade uit basuin, kan inderdaad as sulks aangesien word, in so ver as wat dit geldelike wins bevorder.
  1. Tog is dit in der waarheid, gemeet aan die genade van God en die barmhartigheid van die kruis, die onbelangrikste.
  1. Dit is verpligtend om die biskoppe, sieleversorgers (geestelike werkers) en die kommissarisse van die apostoliese aflaat alle eerbied te betoon.
  1. Hulle is egter nog meer verplig om hulle oë gevestig en ore gespits te hou dat hulle nie hulle eie waanbeelde preek in plaas van die opdragte van die pous nie.
  1. Wie teen die waarheid van die apostoliese aflaat (die evangelie) iets sê, is verdoem en vervloek.
  1. Wie egter die willekeur en die onbeheerstheid van die toesprake van aflaatpredikers uitjou, is geseën.
  2. Soos wat die pous tereg die banvloek slinger teen hulle wat allerlei kunsstreke tot nadeel van die aflaathandel uithaal,
  1. net so wil hy nog veelmeer hulle met die banvloek tref wat onder die voorwendsel van die aflate die heilige liefde en waarheid benadeel.
  1. Om te dink dat die pouslike aflaat so werk dat dit ʼn mens ook sou kon kwytskeld wanneer ʼn mens – om die onmoontlike te stel – die moeder van God verkrag het – is kranksinnigheid.
  1. Ons stel daarteenoor: die pouslike aflaat kan nou eenmaal nie die geringste een van die toelaatbare sondes uitwis wat die skuld van sonde aan betref nie.
  1. Dat ʼn mens sê dat ook die heilige Petrus kon, as hy nou die pous sou wees, geen groter genade uitdeel (as aflate) nie, is lastering teen die heilige Petrus en die pous.
  1. Ons stel daarteenoor: die huidige en elke ander pous het groter genade, naamlik die Evangelie, die charismatiese gawes, die gawe van genesing en so voorts, soos dit in 1 Korintiërs 12: 28 aangetoon word.
  1. Die bewering dat die aflaatkruis wat hoog opgestel is, versier met die pouslike embleem, besit dieselfde krag as die kruis van Christus, is godslasterlik.
  1. Die biskoppe, sieleversorgers en teoloë wat sulke leringe vir die volk toelaat sal eendag rekenskap moet gee
  1. Sulke roekelose aflaatprediking maak dit vir selfs geleerde mense nie maklik om die nodige eerbied vir die pous te verdedig of dan ten minste die pous teen die venynige vrae van die gewone lidmate te verdedig nie.
  1. Hulle vra byvoorbeeld: Hoekom maak die pous nie die vagevuur uit heilige liefde en ter wille van die hoogste nood van die siele leeg nie? Dit is tog die mees gegronde rede! Dit terwyl hy tog ontelbaar baie siele ter wille van onheilige geld verlos wat vir die bou van die Sint Pieterskerk gegee word. Dit is as sodanig tog die mees ongegronde rede!
  1. Verder: Waarom word Nagmaalsviering vir die dooies en die kerklike feesdae vir die afgestorwenes steeds onderhou, en waarom gee hy nie die spesifieke donasies daarvoor terug nie, dit wil sê, laat hy die teruggee toe nie, wanneer dit tog verkeerd is om vir siele wat uit die vagevuur verlos is nog verder te bid?
  1. Verder: Wat se nuwe tipe barmhartigheid van God en die pous is dit wat goddeloses en mense wat God vyandig gesind is toelaat om vir geld ʼn vroom siel vir wie God liefhet te verlos, maar wat hierdie vroom en geliefde siel nie omrede hulle eie nood uit vry geskenkte liefde verlos nie?
  1. Verder: waarom word die kerkregtelik boetebepalings, wat saaklik en deur ongebruik lankal reeds ongeldig en dood is, nogtans deur die toestaan van aflate met geld afgelos, asof hierdie boetebepalings effektief nog geldig is?
  1. Verder: Waarom bou die pous nie liewers, wat vandag ryker is as die rykste miljoenêr (Crassus), nie ten minste een deel van die Sint Pieterskerk met sy eie geld eerder as met die geld van arm gelowiges nie?
  1. Verder: wat skeld die pous diegene vry of waaraan gee hy hulle aandeel aan wat deur volkome berou aanspraak het op volle vergifnis en volle vergoeding (deur God het)?
  1. Verder: Sou dit nie die beste vir die kerk gewees het nie as die pous, soos hy dit eens op ʼn tyd gedoen het, ʼn honderd keer op ʼn dag elke gelowige kwytskelding en vergoeding waarborg nie?
  1. As dit tog vir die pous met Aflate meer om die heil van die siele gaan as om geld, waarom verklaar hy vroeëre briewe en aflate ongeldig al hoewel hulle tog net so effektief was?
  1. Om hierdie uiters pynlike besware van die gewone lidmate net met geweld te onderdruk, maar nie met gegronde inligting uit die weg te ruim nie, beteken, die kerk en die pous word aan die bespotting van die vyande uitgelewer en Christene word ongelukkig gemaak.
  1. As die aflaat daarom in die gees en bedoeling van die pous gepreek word, sal hierdie besware maklik weerlê word, ja, hierdie besware sal glad nie eers gestel word nie.
  1. Weg daarom met al die profete wat vir die volk van Christus se: “Vrede, vrede” en daar is geen vrede nie. (Jer. 6:14)
  1. Salig is al die profete wat vir die volk van Christus sê: Kruis, kruis, ook as daar van die kruis niks te merk is nie
  1. ’n Mens moet die Christene vermaan dat hulle Christus hul hoof, deur lyding, dood en hel moet probeer navolg
  1. en om nog meer daarop te vertrou om eerder deur baie beproewinge in die hemel in te gaan as deur die sekerheid van ’n skynvrede.

“ Op die 31 ste Oktober 1517, aan die datum moet ʼn mens vashou ten spyte van die nuwerwetse polemiek, het Martin Luther ʼn kennisgewing met 95 stellinge aan die deur van die kasteelkerk van Wittenberg opgesit. Hy wou, soos dit toe die gebruik was, aan die kennisgewingbord van die universiteit (die deur van die kasteelkerk) ʼn akademiese bespreking uitroep.

Niemand het opgedaag nie. Die stellinge het egter vinnig bekend geword, dit is in Duits vertaal, herdruk en het in stormagtige haas die hele Duitsland deurkruis. Meteens was die onbekende monnik en professor in die afgeleë Wittenberg op almal se lippe.

Die rede vir Luther se openbare stellinginname in die aflaatvraagstuk waarin hy self nog geen finale mening gestel het nie, was die verkoop van ʼn nuwe tipe pouslike aflaat vir die bou van die Sint Pieterskerk in Rome in die gesamentlike gebied van Mainz en Maagdenburg van die aartsbiskop asook die gebied Brandenburg.

Luther se stellinge spreek die misbruik van die aflaatstelsel aan maar die stellinge is eintlik gemik op die kern van die boetedoenings en aflaatleer self. Luther het nog met die opstel van hierdie stellinge geglo dat hy die pous met die vernedering van die aflaatpraktyk kon uithelp.

Met die stellinge het Luther nog vasgehou aan die noodwendigheid van die Absolusie, die toesegging van vergifnis deur die priester, al was dit nou nie meer so seer as deur die bemiddeling van die priester nie, maar deur die verkondiging van vergifnis deur die priester.

Die geloof in die vagevuur het hy mettertyd bevraagteken.

Nogtans het hy alreeds deur die 95 stellinge die boetedoening uit die mag van die sakramentele en hiërargiese mag van die kerk bevry deur dit weer in die persoonlike verhouding van die enkeling met God toe te wys.”

Die aanhalings wat skuinsgedruk is, is ter verduideliking ingevoeg deur die vertaler: ds. PJ Kriel, Die aanhalings wat nie skuinsgedruk is nie, is Martin Luther se eie toeligting. Vertaal deur ds. PJ Kriel 6.01.2008.

[1] Äusgewählte Schriften” van Karin Bornkamm en Gerhard Ebeling, bl. 26-37.