Preekskets Oggend 11 Julie 2010
Lees Spreuke 28:1-14 <- Klik om nou te lees
Teks: vers 1
Ek hoef nie die witvlag te hys nie. Ek is vrygespreek.
My vryspraak in Christus bied innerlike geborgenheid.
ʼn Baie belangrike verskil tussen die gelowige en
die ongelowige word in ons teksvers na vore gebring. By die
ongelowige ontbreek daar iets belangrik in die innerlike:
ware geborgenheid. Hierdie gebrek is dikwels goed verskuil
omdat daar baie uiterlike dinge is waarop ʼn mens kan
staatmaak. As al die uiterlike krukke egter wegval, is die
ongelowige weerloos. Sonder die krukke is die ongelowige
uitgelewer aan homself en sy eie gewete. Dit is hierdie
diepgesetelde onrus waarna die spreukedigter in ons
teksvers verwys as hy sê dat die goddelose hardloop
sonder dat iemand hom jaag.
Wat maak die gelowige anders? Die krisisse van hierdie lewe
gaan tog nie by ons verby nie? Die antwoord lê in die
woord “regverdige” in ons teksvers. Regverdiges
is mense wie se verhouding met God sodanig verander is dat
God sy vyandskap - sy toorn – teenoor hulle verander
het na liefde. Gód het hierdie groot verandering
bewerk en Hy het dit alleen uit genade gedoen. In hierdie
genade van God kry ʼn mens eers behoorlik insig as jy
verstaan dat God se Seun mens geword het en as mens ʼn
volkome regverdige lewe geleef het. As Hy egter soos ʼn
misdadiger deur God verlaat word, kan God sy regverdigheid
vir ons toereken. God spreek my op grond van Christus se
verdienste vry van al my sondes. As gelowige ontvang ek
deur die vryspraak in Christus daardie een belangrike iets
wat by die ongelowige ontbreek: innerlike geborgenheid. My
Skepper is nie op grond van my sonde vyandig teenoor my
nie. Hy sorg in volkome liefde vir my!
Ek hoef nie die witvlag te hys nie.
Beteken dit dat gelowiges nooit soos die ongelowige
weghardloop nie? Ons weet uit ervaring dat ons ook soms
weghardloop – hensop – die witvlag hys. Soos
soldate wat al die nodige wapenrusting het, maar nie weet
hoe om dit te gebruik nie en dan maar oorgee, hys ons ook
soms die wit vlag. Daar is verskeie redes waarom die
innerlike geborgenheid wat aan my geskenk is, geen
betekenis vir my het wanneer die stryd groot raak nie: i)
Ek begryp nie regtig dat ek volkome regverdig verklaar is
nie. ii) Ek verstaan nie wat alles verander het noudat ek
in Christus regverdig verklaar is nie. iii) Ek weet dat ek
regverdig verklaar is, maar ek dink dit het net betekenis
vir die oordeelsdag. vi) My regverdigheid in Christus word
nie sigbaar in ʼn toegewyde lewe aan God nie (ek sien
dus in my lewe niks van my regverdig-wees nie en ek
ondermyn dus my sekerheid oor God se liefde). Gelowiges wat
egter onder leiding van die Gees erns maak met hulle
regverdigheid, sal nie soos patetiese soldate terwyl hulle
goeie wapenrusting het, die witvlag hys nie.
Gees-driftig stryk ek die witvlae in my lewe.
Onder die aandrang en leiding van die Gees moet ons begin om die witvlae in ons lewe te stryk. Gees-driftig moet ek byvoorbeeld ophou hensop vir sondige begeertes en motiewe, ou ingeburgerde sondes, louheid in my geloof en laksheid en vrese om die evangelie te verkondig. Kyk uit vir die witvlae in jou lewe, gelowige. Hulle hoort nie daar nie. Die Here verseker: die regverdige het die moed van ʼn leeu.
