Preekskets Oggend 13 Junie 2010
Lees Efesiërs 5:25-31 <- Klik om nou te
lees
Teks: vers 30
Geesverseëlde mense se woorde verwond nie, maar bou op, is tydgerig en gee genade deur.
Die Gees verander die bron en dan borrel dit nie woorde wat verwond nie.
Ons het reeds in die reeks gesê dat die een
belangrike plek waar dit in gelowiges se lewe sigbaar word
of hulle vervul is met die Heilige Gees, in hulle
taalgebruik is. Hoekom is dit so? As ʼn mens met die
Gees verseël is, woon die Gees in daardie mens. Daar
in die innerlike, in sy diepste wese, waar die mens se
motiewe skuil, daar word die mens verander. Voor die
verandering, is die mens se diepste innerlike soos ʼn
bron wat vuil water laat uitborrel. In vers 29 wys Paulus
op “vrot” woorde. Dit is woorde wat wonde
veroorsaak. Die Gees laat hierdie vuil water by die
gelowige opdroog. Dit is in besonder wanneer ons ernstig
met mekaar oor iets verskil en lus het om mekaar wonde toe
te dien, dat die verskil wat die Gees bewerk, sigbaar sal
word.
Die Geesveranderde hart borrel woorde wat opbou, tydgerig is en genade gee.
Watter woorde borrel dan uit ʼn Geesveranderde
innerlike? Paulus noem drie eienskappe van sulke
woorde:
- Dit is woorde wat opbou
Eerstens sê hy dat ons woorde dan sal opbou. As ons ernstig met mekaar verskil, kom daar in ons ʼn drang om die persoon met wie ek in konfrontasie is, te kwets, seer te maak en af te breek. Wanneer ek egter die Gees in my gehoorsaam, wil ek juis die teendeel bereik – ek wil die persoon opbou. My doelwit is nie meer om ten alle koste die argument te wen nie, maar met ʼn omgee wat van die Gees kom, hou ek in die uitpraat van die verskil die persoon voor my in die oog.
- Dit is woorde wat tydgerig is
Tweedens beklemtoon Paulus dat die gelowige se woorde volgens die eis van die omstandighede moet wees. In verskille met mekaar is daar met baie van die dinge wat ons vir mekaar sê op sigself niks verkeerd nie, en tog vererger dit dikwels net die probleme. Dit is wanneer ons die omstandighede nie goed deurdink het nie. Ek sou myself in ʼn argument byvoorbeeld selfs uit die Bybel kan verdedig en dan was verdedig nie die eis van die omstandigheid nie. Ek moes dalk eerder net die persoon met wie ek in konfrontasie staan, se magteloosheid of seer of woede raakgesien het en dit op ʼn manier met ʼn sagte woord opgevang het. Die Gees lei ons om volgens die eis van die omstandighede te praat.
- Dit is woorde wat genade deurgee
Ons moet volgens vers 29 so praat dat dit genade gee aan die wat dit hoor. Hierdie “genade” dui natuurlik ook op woorde wat mense “ten goede is”. Die “genade” dui egter in hierdie konteks op meer. Dit is juis deur die werking van die Gees dat ek deel in die wonderlike genade wat God in Christus aan my geskenk het. Selfs wanneer ek ernstig met iemand verskil moet iets van hierdie genade waarin ek deel, aan hierdie persoon oorgedra word.
