Preekskets Oggend 27 Junie 2010
Lees Efesiërs 4:25-5:2 <- Klik om nou te
lees
Teks: vers 30
Die Gees laat geen twyfel oor wie ek is en watter voorbeeld ek moet volg nie.
Die Gees laat by my geen twyfel wie ek is nie.
Ons het reeds gesê dat vers 30 waarin Paulus oor
die Heilige Gees handel as kern van die omliggende verse
dien. Dit is omdat ons deur die Gees verseël is dat
ons die waarheid praat (v. 25), ons kwaad-wees in
gehoorsaamheid aan God bestuur (vv. 26-27), mense met ons
woorde opbou (v. 29) bitterheid teëstaan en mense
vergewe (vv. 30-31). In 5:1-2 gaan dit steeds oor die
werking van die Gees.
In hierdie verse word ? dieperliggende rede gegee waarom
die verseëling met die Gees so kragtige uitwerking in
ons lewe het. Diep binne die gelowige neem die Gees ?
verwoestende twyfel weg, naamlik die twyfel oor wie ek
regtig is. In die plek daarvan gee Hy heerlike sekerheid:
“Ek is God se geliefde kind.”
Die woord “geliefde” in 5:1 herinner aan
Efesiërs 1:6 waar die Seun God se
“Geliefde” genoem word. As gelowiges kan ons
ons verwonder oor die intense, omvangryke en heerlike
liefde tussen die Vader en sy Seun – liefde wat jy
nooit in mensewoorde sal kan beskryf nie. Hoor ek egter as
die Gees my verseker dat God my in die Geliefde begenadig
het (vgl. 1:6) en dat ek nou God se “geliefde”
kind is? Hoor ek só goed wat die Gees sê, dat
ek nie my identiteit laat afhang van mense se erkenning of
my suksesse nie?
Die Gees laat geen twyfel oor watter voorbeeld ek moet volg nie.
Soos klein kindertjies gewoonlik hulle ouers se
voorbeeld volg, laat die Gees ook geen twyfel by die
gelowiges Wie se voorbeeld hulle moet volg nie. Geliefde
kinders van God, volg God se voorbeeld.
In 5:2 word uitdruklik gesê hoe iemand se lewe sal lyk wat God se voorbeeld volg. Hy sal in liefde lewe (vgl. 5:2a). Wanneer jy in liefde lewe, sien mense in jou lewe iets van God se optrede. Hierdie lewe in liefde omspan eintlik al die sake waaroor Paulus 4:25-32 gehandel het. In liefde hou ek by die waarheid, tree ek reg op as ek kwaad word, bou ek mense met woorde op en vergewe ek.
Die unieke kenmerke van ‘n lewe in liefde word in
5:2 duidelik uitgespel wanneer Christus se lewe in liefde
aan ons voorgehou word. Uit dit wat in 5:2 van Christus se
liefde gesê word, kan ons die volgende kenmerke
uitlig:
• Soos Christus is ek gewillig om my belange die
minste te ag.
• Soos Christus is my liefde aan ander ʼn
welbewuste offer aan God.
• Soos Christus is ek daarvan bewus dat my lewe in
liefde vir God ʼn lieflike geur is – natuurlik
nét op grond van die verdienste van Jesus
Christus.
