Skip to content
Menu

Juis omdat Hy ons Hoëpriester is, ontvang ons volmaakte versoening

Lees Johannes 18:12-24

Teks vers 13

In Johannes 18:13 word beklemtoon wie hoëpriester was in die jaar toe die Here gekruisig is.  Dit was Kajafas. Deur dit te beklemtoon, word die korruptheid van die priesterdiens in daardie tyd, op die voorgrond geplaas. Aan die ander kant skitter die heerlikheid van Jesus se priesterskap wanneer Hy, nadat Hy gevange geneem is, heel eerste voor ʼn hoëpriester moet verskyn.

 

Jesus se roeping as Hoëpriester kom van Bo.

Die priesterdiens in die Ou Testamentiese bedeling was nie deur mense uitgedink nie.  God het dit ingestel. Deur die priesterdiens het God duidelik gemaak dat Hy op ʼn besondere manier versoening tussen Hom en sy volk bewerk. In hierdie diens het die hoëpriester ʼn besondere plek ingeneem. God het daarom duidelik bepaal wie as hoëpriester mag gedien het en ook dat dit ʼn lewenslange diens was. Wanneer Jesus egter eerste voor Annas verskyn en hy as hoëpriester optree (vgl. 18:19), is dit duidelik dat dit nie meer die diens was soos God dit ingestel het nie. Annas was voorheen hoëpriester, maar is deur dieselfde Romeinse owerheid wat hom aangestel het, afgesit. Op ʼn manier het Annas gesorg dat sy skoonseun weer deur die Romeine aangestel word (soos hy ook gesorg het dat vier van sy seuns hoëpriester geword het). Die aanstelling wat God self gedoen het, is onderwerp aan menslike voorkeure en manipulasie. Ons Hoëpriester wat daar voor Annas as gevangene staan, is deur God Self vanuit die hemel gesalf as Hoëpriester en wel volgens ʼn ander orde. Hy is daar in sy gevangenisskap reeds besig om sy opdrag uit te voer.

 

Ons Hoëpriester was waarlik bereid om te offer.

In die lewe van Annas en sy skoonseun was die verval van die priesterdiens soos God dit ingestel het, sigbaar. Hierdie was nie mense wat bereid was tot ware offerdiens nie. Dit was juis húlle wat in beheer was van die geldmakery buite die tempel. In plaas van diens aan die volk, het hulle juis die mense wat kom offer het, uitgebuit. Voor Annas staan die Hoëpriester, Jesus Christus. Wanneer Annas se slaaf Hom sonder rede klap en Jesus nie met geregverdigde geweld optree nie, is dit maar ʼn klein teken van sy bereidheid om te offer. Hy staan op die punt om Homself aan die vloekhout te offer vir die wat aan Hom behoort.

 

Ons Hoëpriester se verbondenheid met ons is tot ware seën.

Die Ou Testament maak dit baie duidelik dat daar ʼn besondere band tussen die hoëpriester en die volk was. Wanneer die hoëpriester sondig, word die hele volk skuldig. Die offer wat vir die sonde van die hoëpriester vereis was, was dieselfde as die offer wat gebring moes word wanneer die hele volk gesondig het (vgl. Lev. 4:3-21). Wanneer hierdie eenheid in gedagte gehou word, is die verhouding tussen Annas en die volk skrikwekkend. Annas en sy skoonseun het reeds besluit dat Jesus doodgemaak moet word.  Hulle onreg word sigbaar wanneer Jesus se versoek dat aangetoon word wat Hy verkeerd gedoen het, net met ʼn klap beantwoord kan word. Aan die ander kant: ons verbondenheid aan die Hoëpriester wat ten volle aan God gehoorsaam was, is tot ware seën.