Hy wat daar in sy bebloede toestand voor Pilatus staan, Hy is ons Koning.
Die bebloede Een, juis Hy is die Koning wat gekom het.
Wanneer Pilatus op die regbank gaan sit, verklaar hy eerstens dat Jesus die Koning van die Jode is. Jesus het, ná die growwe mishandeling en spot wat Hy ondergaan het, beslis nie soos ʼn koning gelyk nie. In Pilatus se uitspraak sit daar egter meer as wat Pilatus self sou kon begryp. Pilatus is reg. Juis só lyk die Koning wat uit die Jode gebore moes word. Hierdie Koning sou nie in weelde leef en omring wees deur mense wat Hom bedien nie. In sy verlate, vernederde en mishandelde toestand herken jy die Koning wat God gestuur het – herken jy die Lydende Kneg wat op pad is na totale Godverlatenheid aan die kruis. Die bebloede Een daar voor Pilatus, Hy is ons Koning.
Verbind aan Hom ontvang ons dit wat Hy verwerf. Sonder Hom…
Met hierdie lydende Koning wil die Jode niks te doen hê nie. Hulle skreeu: “Neem weg, neem weg, kruisig Hom.” Dit volg hulle op met ʼn skrikwekkende erkenning. Hulle sê dat hulle geen ander koning het as die keiser nie (v.15). Wat dan van God se belofte van die Messias wat sou kom? Wat van die belofte ná die sondeval dat
God Een sal gee wat die slang se kop sal vermorsel (Gen. 3:1)? Wat van die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat in hom die volke van die aarde geseën sal word (vgl. Gen. 12:3)? Wat van die belofte aan Dawid dat sy koningskap vir altyd sal voortbestaan (vgl. 2 Sm. 7:16 en Ps. 89:4-5)? Dit word duidelik dat hulle hul losgemaak het van God se beloftes en daarom herken hulle nie die Koning wat God beloof het nie en glo hulle nie in Hom nie. Hierdie lydende Koning wat hulle verwerp, is ons Koning. Aan Hom is ons verbind. Ons maak ons nie van Hom los nie, Inteendeel, deur die werk van die Gees verinnig ons meer en meer in ons verhouding met Hom. Ons ontvang wat Hy deur sy lyding en oorwinning verwerf.
Wie aan Hom verbind is, laat geen ruimte vir misverstand oor Wie Hy is nie!
Wanneer Pilatus verklaar dat Jesus die Koning van die Jode is, is sy verklaring gekleur met ʼn nasionalistiese element. Hy dink dat hierdie ʼn koning vir die Jode is. Dit is opmerklik dat die plekke waar Jesus in die Bybel die “Koning van die Jode” genoem word, dit spesifiek nie-Jode is wat Hom so noem. So het die wyse manne uit die Ooste wat aan die Kindjie Jesus hulde gebring het, Hom ook beskryf (vgl. Matt 2:2). In een opsig was Pilatus reg met die benaming “Koning van die Jode.” Die bebloede Man daar voor hom, is inderdaad ʼn Koning wat volgens God se beloftes uit die Jode gebore sou word. Hy het egter nie net vir die Jode gekom nie, maar vir al die ander nasies. In hulle stryd om Jesus veroordeel te kry, het hulle wat al die beloftes aangaande die beloofde Messias moes ken, daaroor geswyg. Hulle het verswyg dat die Messias ook “ʼn lig tot verligting van die nasies” (vgl. Simeon by tempel i.v.m. die Kindjie Jesus) sou wees. Mense wat aan hierdie Koning verbind is, doen dít nie. Hulle laat geen ruimte vir misverstand en onkunde oor hulle Koning nie. Wie tans die verdraaide stemme oor Wie Jesus is, om ons hoor, sal nie swyg nie.