Sondagoggend 5 Maart 2017 Lees Jakobus 3:1-12 Teks: vers 10b
Óf ‘n hellevuur, óf ‘n hemelse vuur.
Die vuur is reeds gemaak – jy het ‘n tong.
Iemand het gesê: “Jy kan baie dinge in iemand se sitkamer mors: water, selfs rooi wyn en jy sal verskoon word. As jy egter een woord mors, kan jy dit nooit weer skoonmaak nie.” Vanoggend het ons in God se Woord gelees dat die tong “‘n vuur” is! Die wonderlike gawe wat jy het om te kan praat, is ‘n vuur. Met hierdie gawe kan jy nie, soos in die gewone lewe, besluit om in sekere omstandighede liewers nie ‘n vuur aan te steek nie. Die vuur is reeds gemaak, want jy hét ‘n tong; jy kán praat.
‘n Hellevuur
Oor hierdie vuur, die gawe van die tong, die gawe om te kan praat, word in Jakobus 3 nie doekies omgedraai nie. Die magteloosheid van die mens om die tong te beheer, word beklemtoon. Die mens kan alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier tem, maar nie die tong nie (v. 7). Met die tong is dit presies andersom as byvoorbeeld met perde en met skepe. Met stange beheer ons perde en met ‘n roer beheer ons ‘n skip (vgl. v. 3-4), maar in plaas daarvan dat ons die tong beheer, neem die tong beheer oor en steek my hele lewe aan die brand (v. 6). Let op: die tong is “‘n wêreld vol ongeregtigheid” in my liggaam (v. 6). Die aaklige en sondige van die wêreld: ontkenning van God en sy eer; skyn; selfsug; eersug; behoefte aan beheer oor ander; ensovoort, vind uiting via die een lid in my liggaam, naamlik die tong. Die tong verteenwoordig die sondige wêreld in my liggaam. Maar waarom is die mens so magteloos teen hierdie vuur? As jy ‘n vuur wil doodmaak, moet jy dit by die oorsprong doen. By hierdie vuur se oorsprong kan geen mens egter uitkom nie. Die tong as vuur word uit die hel aangesteek (v. 6). Die mens se magteloosheid teen die Bose, word sigbaar in die onbeheerbaarheid van die tong.
‘n Vuur uit die hemel
Wil die Heilige Gees ons met Jakobus 3 net laat besef dat ons magteloos is teen die tong wat uit die hel aangesteek word? Wie Jakobus 3 deeglik lees, sal merk dat met beelde duidelik gemaak word dat daar twee soorte mense op aarde is. Daar is mense wat soos brak fonteine is: hulle kan net brak water gee (v. 12). By hulle, mond uit dit wat vanaf die hel aangesteek is. Daar is egter ander mense op aarde. Hulle het heeltemal ‘n ander aard. Hulle is fonteine wat vars water laat uitborrel (vgl. v. 11). Hulle is vyebome wat vye, olyfbome wat olywe en druiwestokke wat druiwe dra (vgl. v. 12). Hoekom is hierdie mense anders? Dit word duidelik uit vers 9 waar die Here uitdruklik “Vader” genoem word. Hierdie mense is deur God, die Vader, verwek – hulle is wederbaar. Met hulle wedergeboorte het hulle as kinders van God ‘n nuwe aard ontvang. Die vuur in hulle, die tong, word nou uit die hemel aangesteek. Die Gees wat met Pinkster uitgestort is, Hy wat die gelowiges met Pinkster soos vuur gesien het en wat soos tonge verdeel het (Hand. 2:3), werk nou in elkeen wat deur die Vader wederbaar is. Jy het nou ‘n ander vuur in jou! Daarom:
weet: die vuur is reeds gemaak – jy het ‘n tong;
waak: brandgevaar;
begryp: jy het ‘n nuwe aard ontvang en besef wat dit beteken en
luister: laat deur die Gees vars water uitborrel, dra vye, olywe en druiwe.