Skip to content
Menu

Kolossense 2:4-23

‘16 Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ‘n Sabbat nie. 17 Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.’

DIE WET IN DIE LIG VAN CHRISTUS

Die seremoniële wet – waar kom dit nou skielik vandaan? In Artikel 25 van die NGB word ‘n baie konkrete punt nogmaals bevestig. Hierdie artikel bevestig naamlik aan ons dat in Christus die hele Ou Testamentiese erediens sy vervulling vind. Met die koms van Christus kom daar gevolglik verandering in die manier waarop God gedien wil word.

Die vervulling van die Ou Testament

Wat word nou met die “seremonies en heenwysings van die Wet” bedoel? ‘Seremonies’: dit dui op die erediens van die Ou Testament, al die godsdienstige rituele en handelinge wat die priesters en die volk op bevel van die Here moes uitvoer. En ‘heenwysings’ – Die woord wat in die Latyn van die oorspronklike NGB gebruik word, is figurae – figure, simbole, prentjies. Dus, die Ou Testamentiese erediens en seremonies was een wat gekenmerk is deur figure en prentjies. Op dié manier het God sy kind, Israel, die abc van die geloof geleer… Maar nou sê Paulus vir die Kolossense: “Julle kan nie by die abc blý nie!” Dit is presies die betekenis van die woorde ‘eerste beginsels’ in verse 8 en 20. Die tyd het nou verander. God het sy Seun uitgestuur. Paulus skryf in vers 9 en 10 – ‘Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul.’ God se volk het volwassenheid bereik, nie deur haarself nie, maar deur die koms van Jesus Christus. Daarom kan die volwasse volk van God nie meer teruggaan na die stadium van onmondigheid nie. Die Ou Testament is vervul. Die skaduwee is deur die Lig verlig.

Die erns van die Nuwe Testament

In die nuwe verbond ontvang ons groter verantwoordelikhede. Ons word nou as volwassenes gereken en nie as kinders nie. In die Nuwe Testament word die erns van die wet bevestig en beklemtoon. In Mattheus 5:17 sê Jesus: “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profetes af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul.” Met groot verantwoordelikheid ontvang ons die wet van die Here vandag as ‘n gawe. Twee diewe wil hierdie gawe van ons wegvat. Dit is die moralisme en die antinominianisme. Twee moeilike woorde. ’n Moralis sien die wet as ’n rottang. Hy tik homself en almal om hom heen hiermee. Hy dink hy stel die Here tevrede omdat hy hom so goed aan die wet hou. ’n Antinominis is iemand wat teen die wet is. Die wet is nie nodig nie. Christus het dit vervul. Liefde is die meetlat. Beide vat die wonder van die wet weg.

Gesprekspunte

  1. Hoe word jou lewe bepaal deur die wet wat die Here vir ons in sy Woord gee?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com