Skip to content
Menu

Johannes 1:14-18

’En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.’

DIE WARE CHRISTUSFEES

Hierdie tyd van die jaar maak die ekonomie reg vir kerstyd. In ‘n oogwink is die winkels vol kersbome en alles wat daarmee saamgaan. Die fokus word geplaas op die kersgevoel. In Engels praat hulle van die Christmas spirit. Maar wat is nou die ware kersgevoel? Die kern van Kersfees is in die kerk. Die kerk as die geloofsgemeenskap rondom Jesus Christus. Waar mense saamkom wat nie mekaar uitgesoek het nie, en tog aan mekaar verbind is. Mense wat almal een ding voor oë het: Genade ervaar, Jesus sien en God eer!

Christus se aanwesigheid

Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon. Jesus is hier, Hy is aanwesig. Jesus as Seun van God woon onder die mense. Vir ons is dit aangrypend. Lewensveranderend. Hierdie Goddelike daad, is die basis waarop ons leef. Maar waar ons verhoog word, word Jesus nie verhoog nie. Hy neem die liggaam van ’n mens aan wat ly onder die sonde. Dit is die grootste liefdesdaad in die geskiedenis van die mensdom.

Christus se Heerlikheid

Die woord heerlikheid is nie ’n woord wat ons baie gebruik nie. In die ou tyd is die woord gebruik om die indrukwekkend uitstraling van invloedryke persone te beskryf. God se heerlikheid is sy uitstraling. Nêrens is dit beter te sien as by Sy Seun nie. Johannes beskryf wat die heerlikheid van Jesus inhou. Hy sê sy heerlikheid is vol van genade en waarheid.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken dit vir jou dat Jesus Christus mens geword het? Hoe ervaar jy sy aanwesigheid in jou lewe?
  2. Sien jy die koms van Jesus as die grootste liefdesdaad in jou lewe?
  3. Wat behels dit vir jou om die heerlikheid van die Here te aanskou?
  4. Hoe leef jy van die genade en waarheid van die Here?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com