Skip to content
Menu

Lees: Psalm 42 Belydenis: Sondag 26 Teksvers: 12 Sing: Ps 100-1:1,2,3,4; Ps 42-1:1,2,3; Ps 42-1:5,6,7; Ps 107-1:1,10,14.

‘Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom, my God, weer prys vir die verlossing wat Hy, my God, deur sy teenwoordigheid bring.

SKOONGEWAS DEUR DIE BLOED VAN JESUS CHRISTUS

Psalm 42 is geskryf deur een van die kinders van Korag. Hierdie man het op ’n stadium ’n belangrike plek by die tempel gehad. Hy sing dit in vers 5 – ‘hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ’n feesvierende menigte!’ Maar nou? Nou is hy ’n verlate eensame. Hy is soos ’n dors wildsbok wat smag na water. So smag die digter na God. Die eensaamheid en verlatenheid is verskriklik. Hy is uit sy bekende samelewing gestoot. Hy is van al sy voorregte gestroop. Sy vyande verdruk hom. Hy het reeds ’n doodsteek in sy binnenste gekry. Boonop word hy in sy magteloosheid gesmaad en die mense bevraagteken sy geloof in God. Hierby kan ons aansluit. As die golwe van die wêreld, die een na die ander oor ons heen kom. As die lewe swaar word. As ons vyande ons verdruk. Die samelewing ons verstoot. Mense ons geloof bevraagteken. Ons as hipokriet uitjou. Dan staan jy eensaam as christen in hierdie wêreld. Maar dan plaas die Here ons geloof op Hom. Die sakramente so het ons laasweek gehoor, versterk die geloof van die kinders van die Here. As die stryd swaar raak, dan hef die Here ons op. Gee Hy vir ons nuwe krag. Daarvan getuig die sakrament van die Heilige Doop. As die sonde golwe van die wêreld op ons afkom, dan mag jy weet dat jy nie daardeur oorspoel sal word nie, want jy is reeds gewas deur die bloed van Jesus Christus. Die teken en seël dra jy op jou voorkop. Dit versterk ons in die geloof. Altyd is ek eiendom van die Here. Hy het My geroep, ek is Syne.

Gedoop in sy Naam

Die doop is nie ’n menslike uitvinding nie. Dit het sy wortels in die Heilige Skrif. Christus was self die Insteller daarvan. Dit is ’n gawe en ’n geskenk van Hom aan ons. Op hierdie manier wil Hy die geloof in ons harte versterk. Kort voor sy hemelvaart sê Jesus vir sy kerk: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.’ Die Heilige Doop verseker jou, dat Jesus Christus vir jou gesterf het. Christus se bloed verlos ons van ons sondeskuld.
Geheilig deur sy Gees
Gewas met die Gees van Christus. Dit beteken om deur die Heilige Gees vernuwe te word. Dit hou in dat die sonde in ons hoe langer hoe meer afsterf en ons telkens meer godvresend lewe. God verlos ons deur sy Gees van die sondemag.

‘n Teken van sy belofte

In die doop word die beloftes van ons Here Jesus verseël. Sy belofte vir ons is duidelik – Ek word in die doop deur Christus self verseker dat ek net so seker met sy bloed en Gees gewas is as wat ek uitwendig met die water gewas is. Dit gee rus vir ’n onrustige siel.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com