Skip to content
Menu

God handhaaf sy voorneme tot genade!

Die Here handhaaf sy voorneme ten opsigte van die volke op die aarde. Dit sien ons deur die hele verhaal van Jona. Jona tree as profeet op in die Noordryk van Israel in die 8ste eeu voor Christus. Die Woord van die Here kom dan tot hom met ’n baie unieke opdrag.

’n Opdrag ter uitbreiding van die genade

Die Here se opdrag aan Jona is kort en direk. Hy moet opstaan en aan Nineve ’n boodskap bring. Voordat ons egter kom by sy reaksie kom, moet ons stil staan by die aard van die opdrag self. Dit is in die Ou Testament eintlik heeltemal uniek. Nineve, wat die hoofstad van die Assiriese ryk is moet ’n besondere boodskap van God ontvang. Hulle moet sy Woord hoor, by monde van die profeet. Dit laat ons dadelik dink aan die Here se bedoeling met die volke, soos Hy dit aan Abraham bekend gemaak het. Die volkere, wat sedert Babel sonder God se besondere openbaring van Homself moes leef, sou uiteindelik vanuit die Here se verbondsvolk in sy seëninge deel. Dit sou uiteindelik begin realiseer toe Christus die Heilige Gees by pinkster uitgestort het. Dit word vooruitgeskou in Jona. God gaan sy genade uitbrei.

’n Vlug uit vrees vir genade

Jona se reaksie op die Here se opdrag is egter verbysterend ongehoorsaam. Hy vlug van die aangesig van die Here af weg. Hy sien nie kan om die Here se openbaring na Nineve te bring nie. Uiteindelik raak dit duidelik dat Jona nie die Here se genade vir Nineve wou gun nie. Dit het gemaak dat hy weggehardloop het van die Here se erediens, soos dit in die Ou Testament ingestel het. Bitterheid, hoogmoed en naywer het gemaak dat Jona nie die teenwoordigheid van die Here kon uitstaan nie. Hy gaan op reis in presies die teenoorgestelde rigting as waarheen die Here hom geroep het. So maak ons dalk soms as die Here ons roep in ’n rigting waarin ons troetelsondes direk aangespreek word.

’n Storm ter handhawing van die genade

Die Here laat egter nie sy voorneme vaar nie. Hy is alomteenwoordig. Geen mens kan uiteindelik van Hom af wegvlug nie. Hy is ook almagtig in sy alomteenwoordigheid. Hy is met ander woorde oral ewe sterk. Hy gooi ’n storm op die see om uiteindelik vir Jona op koers te bring. Hy gebruik die storm om sy voorneme tot genade te handhaaf. Dit geld vir sy genade wat Hy aan Nineve wil bewys. Dit geld ook vir die genade wat Hy daarin selfs teenoor Jona wil bewys. Hy laat sy raad deur niks keer nie. Selfs nie ons ongehoorsaamheid nie. Uiteindelik handhaaf Hy sy voorneme tot genade vir die volke in Jesus Christus. Hy is die banier wat volgens die Here se besluit oor die volke sal opgaan.