Skip to content
Menu

Genesis 38
Mattheus 1:1-3

‘Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham: Abraham het Isak verwek, Isak het Jakob verwek, Jakob het Juda en sy broers verwek, Juda het Peres en Serag by Tamar verwek, Peres het Gesron verwek, Gesron het Ram verwek…’

DIE ROOI LYN VAN GOD SE RAADSPLAN

In die meeste Kinderbybels word hierdie gedeelte uitgelaat. Dit is nogal ‘n rowwe verhaal. Realisties hoe alles beskryf word. Dinge wat jy nie eintlik wil hê jou kinders moet hoor nie. En tog is dit wat ons hier hoor, werklik die realiteit. Welkom in die wêreld van die mensdom. Baie families ken ‘n swart bladsy in hulle geskiedenis. Êrens in die geslagsregister, is daar iemand wat droog gemaak het. Veral oortredings van seksuele aard, word lank onthou. ‘n Buite-egtelike kind, ‘n owerspelige verhouding, ‘n skandaal. Die dader word meestal uitgespoeg, aan die kant geskuif, nie meer ernstig geneem nie. Wat ons in die gedeelte vanoggend gelees het, oor Juda en Tamar, sou in die meeste families oor geswyg word. Donker geheime oor ‘n belangrike en gerespekteerde voorvader, waaroor jy liewers nie praat nie. Tog is hierdie gedeelte opgeskryf in die geskiedenis van Israel. Later neem Mattheus dit ook op in die stamboom van Jesus Christus.

Jesus – Mens onder die mense

In die geskiedenis van Genesis 38 sien ons die realiteit van die mensdom. In hierdie wêreld is jy gebore. In hierdie wêreld is ons Here Jesus Christus gebore. Hy is werklik mens onder die mense. Hy tree die sondige wêreld as mens binne. ‘n Wêreld wat deurtrek is met sonde, skuld, egoïsme en onreg. ‘n Lewe van begeertes en gebreke, leuens en hebsug. Jesus ken dit vanuit sy voorgeslag. Ons Redder is verbind aan die mens se geskiedenis. Hy staan in die lyn van Juda en Tamar.

Herstel vir slagoffers en daders

In die geslagsregister van Jesus staan Tamar. ‘n Slagoffer van slegte manne. Tamar die vrou wat vertrap word. Sy het ‘n Redder nodig. Maar ook Juda se naam staan in die geslagsregister van Jesus. Dit is bemoedigend. Dit beteken dat daar vir sondaars redding is. In Jesus is daar hoop vir daders.

God is in beheer

‘Abraham het Isak verwek, Isak het Jakob verwek, Jakob het Juda en sy broers verwek, Juda het Peres en Serag by Tamar verwek…’ As jy dit net so hoor, dan klink dit soos ‘n gewone lys met name. Ken jy die geskiedenis, dan hoor jy meer. Die familiegeskiedenis van Jesus Christus, roep na ‘n Verlosser. In Jesus is daar redding vir slagoffers en daders. Daarom is dit ‘n groot voorreg om in die registers van die Here te staan.