Skip to content
Menu

Genesis 4:1-16
HK Sondag v&a 127

‘As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.’

DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES

‘n Hartseer verhaal. Die eerste gesin op die aarde, word deur die sonde uitmekaar geskeur. Dit is nie ‘n normale familietwis nie. Die een broer word deur die ander vermoor. Waar het dit so erg skeefgeloop? Die twee seuns het saam grootgeword. Kain die oudste en Abel die tweede. Saam moes hulle gespeel het. By hulle pa Adam geleer het hoe om te werk. Hoe om te plant en hoe om met die diere te boer. Kain het ‘n liefde vir die land ontwikkel, hy het ‘n landbouer geword. Abel het met die diere gewerk, hy het ‘n skaapherder geword. Dag in en dag uit was hulle in mekaar se geselskap. En toe loop dit skeef. Waar? Daar waar Kain nie oor sy sonde geheers het nie. Hier sien ons al die skeiding tussen die gelowige en die ongelowige. Die een is slaaf van die sonde. Die ander is dienskneg van Jesus Christus. Reeds toe al.

Geroep deur die Vader

Kaïn het die roeping van die Here gehoor. In alle erns het die Here dit gedoen. Nadat die Here sy offer nie aanvaar het nie, was Kaïn kwaad en hy het sy kop laat hang. Dan sê die Here vir hom – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. Die Here het die mens na sy beeld geskape. Hy moet oor die sonde heers.

Gered deur Jesus Christus

Kaïn het nie oor sy sonde geheers nie. Hy was ‘n slaaf daarvan. Abel wel. Dit sien ons in sy optrede. In die offer wat hy vir die Here gee. Die feit dat die Here sy offer aanneem toon aan dat Abel dit met ‘n vroom en opregte hart gedoen het. Hy mag alreeds deel in die offer van Jesus Christus. Al moet Hy nog kom is Abel se oë deur die geloof geopen en kan hy saam met God weer leef.

Gelei deur die Heilige Gees

‘Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was.’ (Hebreërs 11:4) In Abel leef daar ‘n nuwe mens wat die stryd teen die sondige ou ek voer. Hy word gelei deur die Heilige Gees. Hy is nie meer ‘n slaaf van die sonde, soos sy broer Kain nie.