Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word
Lees: Lukas 10:25-47 Belydenis: HK Sondag 2 Teks: Lukas 10:26,27 Sing: Ps. 75-1:1,4,6; Ps. 86-1:1,6; Sb. 8-1:1,2; Ps. 48-1:1,4,5.
‘Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
DIE WET AS RIGLYN VIR JOU LEWE
Jy is verkeerd. Dit is nie ‘n lekker boodskap om te hoor nie. Mense hou nie van kritiese opmerkings nie, hulle hou nie daarvan om te verander nie. Die gevaar dreig ook in die kerk. Die mens wil net hoor, waarmee hy saamstem. Maar dit is nie hoe God werk nie. God pas nie by die mens aan nie. Die mens moet by God aanpas. In Sondag 2 van ons Kategismus word hierdie saak aangespreek. Dit gaan hier oor die ellende. Iets waaroor ons as mense nie graag wil praat nie, want die ellende is hier deur ons sonde. Was dit nie vir die sonde van die mens nie, dan was daar nooit soveel hartseer gewees nie. Die vraag word gestel: Waaruit ken jy jou ellende? Daarvoor gee die Here vir ons ‘n spieël, sodat ons, ons sondige natuur kan raaksien. En hierdie spieël is die wet. Daardeur word jou sondige natuur oopgevlek. Word daar vir jou baie duidelik gesê: Jy is verkeerd, maak reg.
God as Wetgewer
God het die hemel en die aarde geskape. God is nie afhanklik van ons nie. Ons is afhanklik van Hom. In die skepping is daar wette wat geen mens kan ignoreer nie. Orals word die wette van die Skepper ontdek. Is ons aan die wette van die Skepper gebind? Die antwoord is ja. Agter die wet hoor ons die stem van die Here. Sodra daar nie vir Hom geluister word nie, is die gevolg ellende.
Christus as Wetgeleerde
Die wet as spieël toon vir ons die werklikheid aan. Dit kan nogal konfronterend wees. Die gelowige weet dat Christus langs hom staan. Dat ons deur Hom in die spieël skoon is. In die Kategismus word gevra – Wat eis die wet van God van ons? Die Here Jesus gee antwoord. Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan laat Hy vir ons baie duidelik sien hoe dit werk.
Die Heilige Gees as Wetleraar
Kan jy dit alles ten volle nakom? Die antwoord is uiters ongewild. Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Baie duidelik word dit hier bely. Ek is nie ‘n slagoffer van die sonde nie, ek is ‘n dader. Volgens my aard wil ek nie vir die Here luister nie. Die Heilige Gees bring ons tot op hierdie punt. Hy leer ons om weer na die wil van die Here te luister en om daarvolgens te leef.