Jesaja 61
‘Hulle sal genoem word: terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik.’
GEPLANT OM DIE HERE TE VERHEERLIK
Goeie nuus is iets waarna ons nogal kan verlang. Goeie nuus gee blydskap. ‘n Draer van goeie nuus is altyd welkom. Jesaja as profeet van God, is op hierdie punt van sy lewe iemand wat goeie nuus mag bring. Hy mag die volk vertel, dat daar ‘n genadejaar aanbreek. ‘n Tyd van bevryding en troos. Hy bring ‘n belofte wat verwagting skep. Die Here het ‘n boodskap vir sy volk, wat ‘n fees werd is. In die eerste plek bring Jesaja hierdie boodskap vir Israel. Israel wat sopas teruggekeer het uit ballingskap. Wat aangekom het in ‘n land wat ‘n puinhoop is. Tussendeur al die rou, die somberheid, die harde werk van weeropbou, die vyandskap van die volke rondom hulle, mag hulle die helder stem van God se profeet hoor – Vryheid en troos. Daar is salf vir die siele van God se kinders.
Die aankondiging van die goeie nuus
In Lukas 4 word Jesaja 61 deur Jesus aangehaal. In Hom gaan hierdie profesie in vervulling. Soos in Jesaja 61 kondig Jesus iets groots aan. Dit maak die evangelie besonders. Die aankondiging daarvan is nie maar net ‘n informatiewe kennisgewing nie. Dit is ‘n lewensveranderende boodskap. Ons ken iets hiervan in ons lewens. Sommige berigte maak dat jou lewe op sy kop staan. Slegte berigte oor siekte, ‘n sterfgeval, ‘n teenslag. Maar as God jou lewe binnekom, deel jy in die evangelie. Dit wat met ‘n hervormende krag in jou lewe werk.
Die inhoud van die goeie nuus
Jesaja profeteer dat die Gesalfde (Messias) kom om bevryding in allerlei vorme te bring. Ons gebroke harte word verbind. Ons boeie word losgemaak. Ons mag uit die gevangenis uitkom. Ons word getroos in ons hartseer. Vers 2 en 3 sê – ‘om almal wat rou, te troos, om te voorsien vir hulle wat oor Sion rou, om vir hulle tulbande te gee in plaas van stof, vreugde-olie in plaas van rou, klere vir lofprysing in plaas van ‘n verslae gees.’ Die Gesalfde roep selfs ‘n genadejaar en ‘n dag van wraak teenoor die teenstanders van die Here uit. ‘n Oorvloed van genade! Dit is wat die Gesalfde verkondig en daadwerklik gee.
Die uitleef van die goeie nuus
In Jesus Christus ontvang ons ‘n nuwe identiteit – ‘Terebinte van geregtigheid.’ Ons is nie meer kinders van die ongeregtigheid nie. Daarvan is ons vrygemaak. Die Gees van die Here maak dat ons gesalfdes is van Hom. Vandag mag ons wees soos bome (Ps. 1:3 en Ps. 92:13-14), geplant deur God, tot eer van God!