Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Jakobus 4; Spreuke 16:1-9 Teks: Jakobus 4:15, Spreuke 16:9 Sing: Ps. 31-1:1,3,4; Ps. 119-1:1,38; Ps. 9-1:1,7; Sb. 17-1:1,2,6; Ps. 93-1:1,2,3,4
‘Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.”
‘Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe.’
Beplanning in afhanklikheid van God
Elke dag van ons lewe het ons met besluite te maak. Van die oomblik wat jy opstaan in die oggend totdat jy in die aand weer gaan slaap. Sommige is van groot belang, ander is heelwat minder belangrik. In jou lewe kom jy telkens weer voor groot dinge te staan. Jy beplan jou lewe vooruit. Daar is baie vra wat jy jouself vra, wanneer jy ’n besluit moet neem. Byvoorbeeld wanneer jy moet besluit watter studie jy gaan volg. Of as jy van werk moet verwissel. Jy kry ’n aanbod om by ’n ander firma te begin. Om ’n nuwe begin te maak met iets heeltemal anders. Doen jy dit of doen jy dit nie? ’n Besluit met reuse gevolge. Selfs op jou ou dag moet jy besluite neem. Hoe spandeer jy die laaste jare van jou lewe as pensionaris hier op aarde? Bly jy op jou eie in jou stadshuis, of gaan jy ouetehuis toe? Wat maak jy? Die antwoord op hierdie vrae is vir ons miskien ’n algemene waarheid: Wanneer jy in so ’n situasie verkeer wanneer jy ’n besluit moet neem, dan doen jy dit in afhanklikheid van God. Eenvoudig, en tog weer ook ingewikkeld. Hoe neem jy nou ’n besluit in afhanklikheid van God? Hoe beplan jy jou lewe in afhanklikheid van God?
Die mens die beramer van planne
Die Here het die mens gemaak met verstand. Jy kan planne beraam en jy kan nadink oor sake. Jy kan self besluit wat jy wil studeer, watter soort werk jy wil doen ens. Die mens ontvang ’n groot verantwoordelikheid van die Here. Maar soms neem kinders van die Here groot besluite sonder om eers aan die Here te dink. Jy dink ’n plan in detail uit, van begin tot einde en eers aan die einde kom jy agter jy het nooit oor die saak gebid nie. Hiervoor waarsku Jakobus ons.
God die bestuurder van planne
Menslike planne is waardeloos en nutteloos sonder God. Hoe maak jy planne in afhanklikheid van God? Wat beteken dit nou dat God die bestuurder van ons planne is? Jakobus toon aan hoe ons hierin in ons geloof kan groei. God is die bestuurder van ons planne. Wanneer jy planne maak moet jy dit vanuit geloof doen, jy moet God en sy wil voor oë hou. Jou plan moet ooreenkom met sy plan.