Tema: Daar is net één Weg – Christus alleen
Die apostel Paulus spreek in Galasiërs 1:6–9 een van die mees dringende waarskuwings in die hele Nuwe Testament uit: Daar is net één evangelie, en dit is die evangelie van verlossing deur genade alleen, in Christus alleen. Enige poging om iets by Christus se voltooide werk te voeg – selfs al is dit godsdienstig of “Bybels” bedoel – is nie ’n aanpassing nie, maar ’n verdraaiing van die evangelie. Dit is, sê Paulus, niks minder nie as afval van God self.
1. Paulus vermaan die Galasiërs omdat hulle die enigste Weg verlaat het
Met skerp verbasing en pyn begin Paulus nie met danksegging nie, maar met ’n ernstige vermaning. Die Galasiërs het hul rug gedraai op die evangelie wat Paulus aan hulle verkondig het, en daarmee, sê hy, ook op God self. Wie die boodskap van genade prysgee, verlaat nie net ‘n leerstelling nie – hy verlaat God. En dit is geen ligsinnige saak nie. Paulus gebruik militêre taal om dit te beskryf: dit is oorgang na die vyand.
2. Die dwaalleraars het ’n “ander” evangelie gebring
Paulus maak duidelik dat daar nie só iets bestaan soos “nog ’n evangelie” nie. Die sogenaamde evangelie van die dwaalleraars – wat Christus se werk wou aanvul met menslike werke – is nie ’n ander soort evangelie nie; dit is ’n heeltemal ander ding. Dit is water, nie wyn nie. Luther waarsku hier: die duiwel kom nie as duiwel nie, maar as engel van die lig. Vals leraars bedek hul leerstellings met Bybelse taal, maar dit is klatergoud. Sodra jy iets by Christus voeg, verander jy die hele karakter van die evangelie. Dan word dit onderstebo gedraai – en dodelik.
3. God self vervloek dié wat ’n ander weg wys
Die apostel roep tot tweemaal toe ’n vervloeking uit oor enigiemand – selfs ’n engel uit die hemel – wat ’n ander evangelie verkondig. Dit is die erns van die saak: dit raak nie net ons redding nie, maar God se eer. Wie sê Christus se werk is nie genoeg nie, beledig God self.
Soos in 1 Konings 13 waarsku God ons: Afwyking van sy Woord is lewensgevaarlik. Hy roep ons nie om padbouers te wees nie, maar padgebruikers. Christus alleen is die Weg – tot in die hemel