Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word
Skriflesing: 1 Johannes 1:1 – 2:6
Teks: 1 Johannes 2:1,2
Sing: Ps 75-1:1,4; Ps 65-1:2; Sk 1-1:3,4; Ps 73-1:11; Ps 116:1,4; Ps 31-1:1+2, 5+6, 15+19, Ps 71-1: 2+4; 9+10, 12+14.
Hoofpunte:
- Nagmaal én Hemelvaart … én die verheffing hart
- Jesus Christus – ons Voorspraak by sy hemelse Vader
- Verheffing van hart én die Heilige Gees as Voorspraak
Vandag se viering van die sakrament van die nagmaal op hierdie Sondag, en eerskomende Donderdag se viering van Jesus Christus se hemelvaart, staan nie op hul eie asof in géén opsig in verband tot mekaar nie. Inteendeel, want van nagmaalsgangers word die volgende gevra om vierend die nagmaal in die geloof te doen: “Die verheffing van hart tot Jesus Christus in die hemel” – waarheen Hy opgevaar het om as ons Voorspraak sy Middelaarswerk voort te sit.
‘n Troosryke rykdom vloei hieruit voort. In Hom het ons ‘n Pleitbesorger by die Vader as ons Trooster. Hy tree pleitend vir ons by die Vader in op grond van sy volbragte Middelaarswerk op aarde. Hy is ons troos in die volkome versoening van sondes. Hierby eindig dit nie, want op aarde is ons nie sónder Voorspraak gelaat nie. Die Heilige Gees, as Voorspraak ná Christus se hemelvaart gestuur, werk tot versterking van die geloof die versekering dat “my siel net so seker vir die ewige lewe gevoed word as wat ek die brood en beker van die Here as ontwyfelbare tekens ontvang” (HK 28:75).
Versterk en vertroos – en met ons hele lewe dank aan God hiervoor te bewys – is die reispad van die geloof hiervandaan verder in die geloof tegemoet te sien waar ons nooit sónder Voorspraak is nie … nié in hemel en ook nié op aarde nie!