Lees: Prediker 11:7 – 12:8
Sing: Ps. 92:1,6,7; Ps. 36:2; Ps. 91:1; Ps. 34:6; Ps. 119:4,5;
1. God se gebod is opbouend
- Verbly jou, o jongeling, in jou jeug.
- Laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid.
- Wandel in die weë van jou hart.
- Wandel in die aanskouing van jou oë.
- Al vier hierdie opdragte is positief. So-ook die vermaning aan die einde van vers 9. Jongmens: weet dat God jou gaan vra of jy die ruimte wat Hy aan jou gee, voluit benut.
2. God se gebod is waarskuwend
Omdat ons (ook die jeug) in ’n gebroke wêreld leef, is die tweevoudige waarskuwing van vers 10 dringend noodsaaklik. Jongmens wat in Christus verlos is:
- Weer verdriet uit jou hart!
- Hou die kwale van jou liggaam weg!
Hoe? Deur altyd, onder alle omstandighede, in die dae van jou jonkheid welbewus aan jou Skepper te dink (12:1a).
3. God se gebod is dringend Jongeling: geniet die dae van jonk wees solank jy die geleentheid daartoe het! Lê die basis vir die res van jou lewe reg. Anders word die ouderdom ’n ramp. Wie in sy jeug nie aan sy Skepper gedink het nie, word sonder sy Skepper oud. So ’n lewe is een waarvan jy sal sê: “Ek het daar geen behae in nie”. Gelukkig daarenteen is die jongeling wie se basis reg gelê en gevorm is.