Skip to content
Menu

Die wekroep van die reformasie  was dat ons alleen deur ‘n ware geloof in Christus gered word.  Niks wat die mens self kan doen of bybring help om verlossing vir ‘n sondaar te bewerk nie – alleen Christus se geregtigheid wat deur die geloof toegeëien word bring saligheid.  En hierdie geloof wek God deur die Woord wat aan ons bedien word – wanneer ons eredienste bywoon, huisbesoek ontvang, Bybelstudie doen, ons besighou met kategese en persoonlik stil word voor die Here.

Maar dan voeg God in sy genade by die bediening van die Woord die versterking deur die gebruik van die sakramente: die doop en die Nagmaal, sodat ons uitwendige sintuie mag verstaan wat God inwendig aan ons doen.  Dit is ‘n totale verlossing, waarby ons hele wese betrokke is.

Tog word die sakramente soms met bygeloof gebruik en gehul in ‘n tipe mistieke krag.  Mense besef soms nie werklik die waarde en diepte van die sakramente nie, en staan dikwels onkundig daaroor.  In die tyd van die Rooms Katolieke kerk is daar byvoorbeeld geglo dat die sakramente ‘genade in jou instort’, en het van die teken meer gemaak as van die Een waarop die teken dui.

Deur die verhaal van die Emmausgangers wys Christus ons daarom vandag dat die Woord primêr staan – dit staan onvervangbaar vas as die wyse waarop God ons tot geloof roep.

Maar vanweë ons stompsinnigheid en menslike swakheid, gee God vir ons tekens en seëls  wat ons telkens van die gewaarborgde verlossing deur Christus verwerf, verseker.

Ons staan vandag dus stil by die sakramente.

  1. Die Emmausgangers het gehoor en gesien.
  2. Ons hoor die Woord en sien die sakramente.