Paulus laat Titus op Kreta agter met ‘n besondere opdrag: om die gemeentes toe te rus sodat hulle standvastig kan wees teen misleiding en dwaalleer. Die kerk leef te midde van ‘n wêreld waar vals leraars en sondige gewoontes volop is. Tog staan God se waarheid hierteenoor – die gesonde leer.
Hierdie leer is die suiwer evangelie van Jesus Christus. Sy voltooide werk en genade alleen is genoeg. Daarby kan niks bygevoeg of weggeneem word nie. Die evangelie is egter nie teorie wat net in die kop bly nie. Dit verander lewens. Waar dit vasvat, kom daar vrug – godsaligheid wat sigbaar word in dade en woorde.
Paulus wys hoe hierdie nuwe lewe konkreet sigbaar word. Ouer manne moet nugter en waardig leef, mense wat met wysheid en selfbeheersing leiding gee. Ouer vroue moet eerbiedig wees, nie verslaaf of skinderend nie, maar leraresse van wat goed is. Hulle roeping sluit in dat hulle die jonger vroue leer om lief te hê, hul gesinne te dien en hul huise tot plekke van orde en liefde te maak. Jonger manne moet selfbeheersd wees, nie onverskillig of losbandig nie, maar gehoorsaam aan die Here.
Die evangelie laat niemand sonder roeping nie. Elke geslag en groep in die gemeente het ‘n taak en ‘n voorbeeld om te stel. Ouer en jonger, man en vrou, almal is nodig. Só word die liggaam van Christus opgebou en versterk. Die gesonde leer leer ons nie net wie ons in Christus is nie. Dit roep ons om dit te leef. Mag die Here ons lei om gemeente te wees waar jong en oud, man en vrou, saam een liggaam vorm en vrug dra tot sy eer.