Ons lewe word maklik oorheers deur bekommernis. Stygende kostes, onsekerheid oor die toekoms en die druk van elke dag kan ’n mens lamlê.
Kommer vreet aan geloof en laat ons fokus op onsself en ons krisisse. Juis hier kom die Here se Woord na ons: leef onbevrees dankbaar uit God se voorsienende hand.
In Lukas 9 sien ons hoe Jesus die skare leer en genees. Teen laatmiddag raak dit duidelik: duisende mense is honger op ’n verlate plek. Die dissipels se oplossing is eenvoudig: stuur die mense weg. Maar Jesus antwoord: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hierdie opdrag ontbloot hulle gebrek aan geloof. Hulle kyk na hul beperkte middele — vyf brode en twee visse — en nie na Christus nie. Hulle bereken hul vermoëns, maar laat geen plek vir God se voorsienigheid nie.
Jesus leer hulle dat God nooit iets van sy kinders eis sonder om ook die middele te gee nie. Hy neem die brood en vis, dank die Vader en breek dit. In sy hande word min meer as genoeg. Almal eet en word versadig; daar bly selfs twaalf mandjies oor. Hier sien ons God se oorvloedige voorsiening.
Hierdie wonder is meer as blote kos. Dit wys op Christus as die Brood van die Lewe wat ons geestelik voed. Soos Hy die skare versorg het, sorg Hy steeds vir sy kerk. Hy roep ons tot gehoorsaamheid en diens, nie tot verlammende bekommernis nie. Wanneer ons oorweldig voel deur wat die Here van ons vra, moet ons onthou: Hy voorsien reeds. Hy gee die krag, die middele en sy Gees. Daarom kan ons sonder vrees en met dankbaarheid leef. By God is niks onmoontlik nie; uit sy hand ontvang ons altyd genoeg.
| Ontmoetingsdiens | 1. Votum en Seëngroet | |
| 2. Psalm 89:1, 2 & 17 | ||
| 3. Geloofsbelydenis | Apostolies | |
| Versoenings-en verootmoedigingsdiens | ||
| 4. Die Wet van die Here | Eksodus 20 (1953) | |
| 5. Psalm 130:2,4 Geneefse melodie | ||
| 6. Gebed om die verligting van die Gees (Epiklese) | ||
| Woorddiens | ||
| 7. Psalm 145:1,5 en 12 | ||
| 8. Skriflesing | Lukas 9:10-17 | |
| 9. Belydenis | — | |
| 10. Fokusverse | Lukas 9:13,16 en 17 | |
| Skrifberyming 10-2 (as gebed) | ||
| Liturgiese formuliere (Doop/Nagmaal/Bevestiging ens) | 11. Verkorte Formulier vir die viering van Nagmaal — | |
| Antwoorddiens | ||
| 12. Psalm 147:1,4,7 | ||
| 13. Gebed | ||
| Kollekte | ||
| 14. Psalm 7:1,2 en 8 | ||
| 15. Wegstuurseën | ||