Handelinge 7:54-60
Psalm 47
‘MAAR STEFANUS, VOL VAN DIE HEILIGE GEES, HET STIP NA DIE HEMEL GEKYK EN DIE HEERLIKHEID VAN GOD GESIEN, EN JESUS WAT AAN DIE REGTERHAND VAN GOD STAAN. EN HY HET GESÊ: “KYK, EK SIEN DIE HEMELE GEOPEN EN DIE SEUN VAN DIE MENS AAN DIE REGTERHAND VAN GOD STAAN.”
KYK – ONS KONING IN DIE HEMEL
Wat is die betekenis van Hemelvaart vir ons vandag? As ‘n mens dit net vir jou voor oë stel besef jy dit is iets groot. Teen alle natuurwette in, vaar ons Here Jesus Christus op in die hemele. Hiervan is alreeds in die Ou Testament geprofeteer. In Psalm 47 sing ons – ‘God vaar voor die oog, met gejuig omhoog.’ Hierdie Psalm sing van die Hemelvaart van die Koning. Van die Messias wat moet kom. Hier word gesing van die troonbestyging van ons Koning Jesus Christus. Dit bevestig Stefanus vir ons met die woorde by sy dood – “Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.”
Sien die hemele geopen
Jesus verplaas die setel van sy regering na die hemel. Hy baan die pad oop na die hemele. Mooi hoe Stefanus dit sê – Ek sien die hemele geopen. Die dissipels van Jesus het geen probleem daarmee gehad dat Hy hemel toe gaan nie. Verseker nie na die verduideliking deur die twee engele nie. Ons lees hulle reaksie daarop – “Hulle het hulde aan hom gebring…en het met blydskap teruggegaan Jerusalem toe.” Om te wag vir die beloofde uitstorting van die Heilige Gees. Jesus het die weg na die hemele toe geopen. Hy bevestig dat ons toegang het tot ons Vader.
Sien die Seun van die Mens
Ek sien Hom, die Seun van die Mens. Daar staan Hy aan God se regterhand. Onvoorstelbaar om so iets mee te maak. Om in die hemel in te kyk. Wat ons verder in die Bybel lees oor die troonsaal van God gaan ons verstand te bowe. Hoe dit alles lyk kan ons nie met woorde beskryf nie. Wat Stefanus sien is baie duidelik. Hy sien vir Jesus, die Seun van die mens aan die regterhand van God. Dit is vir ons ‘n groot bemoediging en bevestiging. Jesus het nie net gesê dat Hy hemel toe gaan nie. Hy is ook daar gesien. Deur iemand hier op die aarde. Dit sit ‘n streep onder wie Jesus is.
Sien Hom staan
Jesus is in die hemel aktief besig met ons. Met sy volgelinge hier op die aarde. Hy is bewus wat in jou lewe gebeur. By Stefanus is dit sigbaar. Jesus staan daar aan die regterhand van die Vader. Deur sy werke hou Hy ons staande. Hy lei ons in ‘n lewe in die lig. ‘n Lewe in stryd teen die sonde. Hy lei ons deur sy Gees. Hier is ons getuies van Hom. Met woorde en dade. Hier leef en sterf ons as christene. Want die Here waak oor ons vanuit die hemel.
Gesprekspunte
- Hoe hou Psalm 47 verband met die Hemelvaart van Jesus Christus?
- Watter bemoediging ontvang jy daaruit deur te weet dat Jesus nou in die hemele is?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com