Psalm 65
‘Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom – hy mag woon in u voorhowe. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel.’
IN ALLES LOOF ONS DIE HERE!
Psalm 65 begin met ‘n interessante woord. In ons vertaling lees ons dit nie raak nie. Die Woord beteken stilte. Voordat die volk die Here loof, is daar eers ‘n oomblik stilte. Stilte bring rus. Stilte sit jou stil waaroor dit werklik gaan. In stilte maak jy jouself gereed, vir dit wat moet gebeur. En dit is wat hier gebeur. Psalm 65 is ‘n lied van lof. Die koor wat sing, is gereed om dit met oortuiging te doen. En in hierdie loflied word twee temas aangeraak. Die een tema is die swaarkry in Israel. Die ander is die verlossing wat die Here bring. In beide is daar rede om die Here te loof. Daarom staan ons in besonder op hierdie dag hierby stil. Want hier is ons vandag almal bymekaar, as broeders en susters in die geloof. Elkeen met sy eie beproewings en seëninge. Van ons leef in oorvloed, ander met tekort. Tog deel ons saam in hierdie geluk. In hierdie voorreg. In tye van nood, gaan ons na die Here toe. Waar die Here uitkoms bring, daar gaan ons ook na die Here toe. In dit alles, bly ons sy Naam groot maak. Hou ons vas aan sy Woord – ‘Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom – hy mag woon in u voorhowe. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel.’
In teëspoed
Die volk Israel is sopas ‘n tyd van droogte deur. Die land was in groot nood. Dit het byna ‘n woestyn geword. Die watervore waarvan daar in vers 11 gesing word, dit het opgedroog. Koning Dawid bely: ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad. Hy verootmoedig homself voor die Here en gaan die volk ook daarin voor. Dit is net die Here wat uitkoms kan bied.
In voorspoed
Maar U versoen ons oortredinge. In ‘n oogwink verander die Here die teëspoed van die mens in voorspoed. Hierdie versoening waarvan Dawid sing wys direk na Jesus Christus toe. Hierdie voorspoed lyk anders as die van die wêreld. Selfs van die armste mense beskik hieroor. Hierdie voorspoed is ‘n lewe saam met God. ‘n Lewe van versoening. Hierop word ons aandag geplaas op hierdie dag van verootmoediging.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com