Skip to content
Menu

Openbaring 3:7-13  Jesaja 22:15-25

‘Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Filadelfia: Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie.’

MIN KRAG, GROOT OORWINNING

Watter kerk is ons? Hoe wil ons kerk wees? Hoe kyk ons hierdie saak? Hoe kyk jy na ander kerke? Ons het vanaand die brief aan die gemeente in Filadelfia gelees. Dit is brief nommer ses van sewe. Die Here het elkeen van die gemeentes besoek. Hy doen visitasie. Vervolgens skryf Hy aan hulle. Hy vertel wat Hy sien by elke gemeente. Hy bemoedig en vermaan. Elkeen van hierdie gemeentes is uniek. Hulle verskil van mekaar. Filadelfia as gemeente is uniek. Dit verskil van die ander gemeentes. By hierdie kerk van Christus sien ons ’n klein gemeente met min krag. Onaantreklik. Min mense. In die samelewing was hulle ongeliefd. Mense het sleg gepraat van die kerk. Hulle het nie naam gehad nie. Maar dit is nie wat Christus sien nie. Sy beoordeling oor hierdie klein kerk is positief. Dit gaan goed met hierdie gemeente.

Die krag van Jesus Christus se gemeente

Filadelfia is ’n klein gemeente. Maar alhoewel die krag min is, is die trou groot. As ons na gemeentes kyk, dan kyk ons na die uiterlike. Ons kyk na die grootte, die gebruike, wat ’n gemeente doen. Met ons menslike oë sien ons baie keer net wat ons wil sien. Maar die Heilige en Waaragtige kyk regdeur ’n kerk. Die Here sien presies wat aangaan. Die gemeente van Filadelfia hou vas aan die Woord en hulle verloën die Naam van die Here nie. Hulle hou vas aan die ware godsdiens. Liewer met vyftig man die Here dien op die regte manier, as tienduisende op die verkeerde.

Die oorwinning van Jesus Christus se gemeente

Die Here Jesus bemoedig hierdie klein gemeente. Hulle staan voor die geopende deur van die koninkryk van God. Hulle moet vashou aan wat hulle het. Die kroon wat hulle van die Here af ontvang het deur Jesus Christus, dit moet hulle nie verloor nie. Saam met ons medegelowiges deel ons hierin. Ons deel in die oorwinning en hou daaraan vas tot die dag wat Jesus Christus terugkeer na die aarde toe.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com