Lees: Numeri 6:22-27 & Psalm 20 Teksvers: Numeri 6:24-26 & Psalm 20:7 Sing: Ps. 67-1:1,2,3: Ps. 20-1:4,5; Ps. 134-1:3,4; Sb. 1-1:1,2,7.
Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos; Hy sal hom antwoord uit sy heilige hemel met kragtige verlossingsdade van sy regterhand.
DIE SEËNGROET VAN DIE HERE
Elke Sondag hoor jy, as jy in die kerk is, vier maal die seëngroet van die Here. Aan die begin van die eredienste en ook weer aan die einde. Vanaand het ons dit gehoor: Eers het ons saam ons afhanklikheid bely – Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Daarna het ons die seën gehoor: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees, sal met julle almal wees. Aan die einde van die erediens, dan hoor ons dit weer. Die Here seën u en behoed u, die Here laat sy aangesig oor u skyn en sy u genadig; die Here verhef sy aangesig oor u en Hy gee vir u vrede. ’n Seën beteken oorspronklik heil of voorspoed. Dit is ’n wens dat dit wat goed is met jou sal gebeur. In Numeri 6 hoor ons die priesterlike seën. Die seën wat die Here daar gee, is ’n ryk en merkwaardige seën, ’n seën met onbeskryflike diepgang. Dit is die priesterlike seën. Hierdie seën ontvang ons vandag ook. Die Here gee dit hier vanaf sy kansels.
Hy seën en beskerm
Psalm 20 sing oor die seën en beskerming van die Here. Die volk Israel het in tye van nood by die tempel bymekaar gekom om tot die Here te bid. Hulle het hulle probleme by God neergelê. Hulle benoudhede, sorge en pyn. Daaroor bid hulle tot God. Waarskynlik was die volk op die oomblik wat die psalm gesing word in oorlog betrokke. Die vyande rondom hulle het die lewe vir hulle moeilik gemaak. Hulle is bekommerd. Met hulle sorge en bekommernisse kom die volk Israel na God toe. In die vorm van ’n biddag roep hulle sy Naam aan en hulle sing hierdie psalm tot eer van Hom. Psalm 20 is een van die koningpsalms. Die volk het dit vir hulle koning gesing. In die konteks vir die Messias, die Koning wat moet kom. Hierin gaan hulle met hulle benoudhede na God toe. Hulle weet dat hulle beskerming net by God sal kry. Die Here seën en beskerm.
Hy gee genade en vrede
‘Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos; Hy sal hom antwoord uit sy heilige hemel met kragtige verlossingsdade van sy regterhand.’ In die seën word genade en vrede beklemtoon. Die twee woorde bring ons direk by Jesus Christus. Hy is vir ons genadig vanweë al die dinge wat Hy vir ons gedoen het. Al sy genadige verlossingsdade. Danksy Hom is dit vir ons moontlik om te lewe. Deur Hom word dit vir ons moontlik om van die genade in vrede te lewe. Om die gawes van liefde en volharding te ontvang en dit uit te leef.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com