Lees: Prediker 1:1-18 Teks: 3 Sing: Ps. 93-1:1,2,3,4; Sb. 12-3:1,2; Ps. 86-1:1,6; Ps. 119-1:33; Ps. 104-1:14,15,20; Sb. 15-1:1,2,3,4.
‘Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos! Watter voordeel is daar vir ‘n mens met al sy inspanning waarmee hy hom afsloof onder die son?’
WAARVOOR LEEF JY?
Hoekom leef jy? Hoe leef jy? Baie keer is die antwoord: Ek leef om die wêreld ‘n beter plek te maak. Daar is al liedjies oor gesing. Ek wil graag die wêreld ‘n beter plek maak vir die generasies wat kom. ‘n Beter plek vir jou en my. As jy dit so hoor, dan gaan dit in jou gedagtes: Wie sal dit nou nie wil hê nie? Om die wêreld ‘n beter plek te maak. Prediker raak die wese van hierdie vrae aan. Vandag gaan ons stilstaan by die vraag: Waarvoor leef jy? Wat is die sin van jou bestaan? In die eerste hoofstuk lei die Here ons aan die hand van Prediker hierin.
Wat is die moeite werd?
Prediker stel die vraag: Wat is nou die moeite werd om voor te lewe? Wie die Prediker is, is nie aan ons bekend nie. Wat ons wel weet is dat dit iemand is wat baie vrae vra. En sy lewe lyk nogal soos ons lewens vandag. Hy het ‘n redelike onbesorgde lewe gehad. Hy het alles gehad wat hy wou en hy het probeer om daarvan te geniet. En tog knaag dit aan hom. Is dit nou alles? Geld verdien, daarvan geniet en dan sterf? Wat het jy daaraan? Daarom is Prediker soekend. Hy soek na iets wat blywende betekenis het. In sy eie woorde: ‘Watter voordeel is daar vir ‘n mens met al sy inspanning waarmee hy hom afsloof onder die son?’
Sinloosheid op die aarde
‘Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos! Watter voordeel is daar vir ‘n mens met al sy inspanning waarmee hy hom afsloof onder die son?’ Die woord werk of inspanning word ‘n aantal keer in Prediker gebruik. Ons werk hard, ons probeer ‘n goeie lewe hê, ons wil iets vir die wêreld beteken, maar volgens Prediker is dit alles niksseggend. In elk geval as dit onder die son is. Alles wat die mens op die aarde doen is sinloos. Maar daar is ook ‘bo die son’. Bo die son is God en Hy breek deur. Sy Seun stuur Hy aarde toe. Jesus se lewe het wel sin, Hy deurbreek die sinloosheid.
Sinvolheid by Christus
Is ‘n lewe in Christus dan werklik sinvol? Hoekom? Die rede: Jesus verander mense. Deur Jesus word ons nuwe mense genoem. Hy sê oor hulle in Markus 8:35,36 – ‘Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?’ Net soos Prediker vra Jesus: Wat is die sin? Wat baat dit ‘n mens? En Jesus antwoord: dit het sin as jy My volg en jou lewe verloor. Jesus kom met iets nuut: Dit is sy nuwe wêreld.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com