Lees: Prediker 4:1-16 Teksverse: 9 & 12 Sing: Ps. 121-1:1,2,3,4; Ps. 131-1:1,2,3; Ps. 133-1:1,2; Sb. 10-2 (Onse Vader); Ps. 124-1:1,3,4.
‘Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ‘n ruim beloning is vir hulle inspanning…As iemand die een wil oorweldig – twee kan teen hom standhou. ‘n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie.’
DIE SIN VAN SAAMWEES IN CHRISTUS
Jy kan liewers saam wees as alleen. Elke mens het ‘n ander nodig. Dit geld nie net vir getroude mense nie. Dit is ook so vir ongetroudes, vir weduwees en wewenaars, vir geskeide mense, vir jong mense en kinders. Elke mens het ‘n ander nodig. Eensaamheid is in ons samelewing ‘n groot probleem. ‘n Groot deel van volwasse mense, voel soms nogal eensaam. Daarom geld die wysheid van Prediker ook vandag. Jy kan liewers saam wees as alleen. So het God die mens geskep: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie…’
Verhoudings gee die lewe betekenis
Prediker begin in hoofstuk 4 oor iemand wat alleen is. Hy noem dit ‘n hartseer saak. Dan kan jy dit vinnig verkeerd verstaan. Die gedeelte word nogal gereeld gebruik tydens huweliksbevestigings. En dan lyk dit of die boodskap van Prediker is: ‘jy kan maar liewers getroud wees as alleen. Watter nut het dit om alleen deur die lewe te gaan?’ Dit is glad nie die bedoeling van die deel nie. Prediker praat oor iemand wat alleen is, maar die iemand is alleen omdat hy altyd kliphard aan die werk is. Hy het nooit genoeg nie. Hy werk van die oggend vroeg tot die aand laat. Dit is sy lewe. Die persoon leef vir sy werk en vir sy geld. En daarom is hy alleen. Ander mense is vir hom net in die pad. As hy tyd aan iemand anders bestee, is dit eintlik geld wat in die put gegooi word, want liewers sou hy wou werk. Sy geld hou hy ook liewers vir hom self. So ‘n lewe waar ‘n verhouding met God en die naaste ontbreek is sinloos. Die Here toon vir ons duidelik in sy Woord – Verhoudings gee die lewe betekenis.
Saam is dit die moeite werd
Twee is beter as een. Dit is deel een van die lewenswysheid wat ons vanoggend ontvang. Die tweede deel bou daarop verder: Menslike verhoudings het jy nodig om te lewe. Op jou eie is dit vir jou nie volhoubaar nie. En presies hiervoor gee Prediker ‘n paar voorbeelde. Prediker sê: As jy alleen is en jy val, kan jy nie weer regop kom nie. Maar is daar iemand anders, dan help hy jou op. En ook: As dit in die nag koud is, word jy op jou eie nie warm nie. As daar iemand anders is, kan jy saam warm word. As jy aangeval word, kom jy op jou eie nie reg nie, maar saam met ‘n ander bly jy staan.
Saam met Christus en sy kerk
Die wysheid van die boek Prediker – jy kan liewer saam wees as alleen – laat God op ‘n besondere manier sien deur Jesus Christus. Want wie aan Jesus behoort, is nooit alleen nie. Christus dra die Naam Immanuel, wat beteken – God met ons. Jesus is vir elkeen die ander Ander. Die tweede saam met wie jy sterk staan. Waar ek val, rig Hy my weer op. Waar dit koud word, gee Hy warmte. Waar ek misluk, daar oorwin Hy. Hy het mens geword. Langs ons kom staan. Tot aan die kruis. Om ons te red van verlatenheid, van die eensaamheid, van die dood.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com