Skip to content
Menu

Prediker 7:1-14

‘Verdriet is beter as lag, want met ‘n droewige gesig gaan dit goed met die hart.’

WYSHEID VIR ‘N DWASE WÊRELD

In Prediker 7 word die sake nogal duidelik gestel. Die onderwerp wat hierin na vore kom is pittig. Prediker sê hier dinge wat dalk vreemd kan klink: ‘n Begrafnis is mooier as ‘n kraambesoek. Hoe is dit moontlik? Is die dood vir hom beter as nuwe lewe? Dit is verseker nie wat Prediker bedoel nie. Maar wat sê die Here dan hier vir ons? Daarvoor moet ons verder gaan delf. Ons duik nog dieper in die woorde van die Prediker. As jy mooi gaan lees, dan sien jy –deur die dood van iemand na aan jou, word dinge wat vir jou altyd belangrik was, skielik nie meer so belangrik nie. Soveel daaglikse dinge, waaroor jy jou eindeloos kan bekommer, is nie meer die einde van die wêreld nie. Want – die tydelike dinge gaan verby. Maar een saak staan vas deur al die tye heen. Dit is die geloof wat die Here in ons harte bewerk. Gereeld kom kinders van die Here in die omstandighede tot dié besef. Soveel dinge waarmee ons elke dag besig is, is tydelik. God is nie tydelik nie. So sit die Here ons stil. Juis daar waar die dood teenwoordig is. Dit is presies wat Prediker hier beskryf. Wat doen ek met hartseer in hierdie lewe? Sy antwoord so eenvoudig. Die wyse word daardeur stilgesit. Selfs die hartseer in sy lewe maak hom of haar sterker. Die saak word vir ons met nagmaal bevestig.

Die pad van die dwase

‘Die hart van wyses is in ‘n huis waar gerou word, maar die hart van dwase is in ‘n huis waar plesier is.’ Van nature is die mens nie geneig om stil te staan nie. In plaas van om stil te staan by dit wat nou gebeur, is mense nogal geneig om van hartseer af weg te loop. So gereeld weet mense nie wat om met hartseer en die dood te maak nie. Dit sien Prediker ook raak. Hy sê dit is beter om hartseer te wees, maar om hom heen sien hy juis vrolike mense. Prediker sien dat mense graag lekker dinge wil doen. Plesier het die doel van die lewe geword. Dit beskryf Prediker as dwaas. Die wyse staan stil by die werklikheid.

Die pad van die wyse

Verdriet is onaangenaam, maar die wyse besef dat daar in die lewe meer as plesier is. Juis in tye van nood besef jy wie die ware Wysheid is. Daarom as kinders van die Here neem ons ons toevlug tot Hom. Hy sit ons stil. Ons haak nie vas by die oppervlakkigheid van dit wat alles hier onder die son gebeur nie. Ons vlug nie vir verdriet nie. Daarom  leef ons nie asof daar nooit ‘n einde aan die lewe kom nie. Leef ons nie asof die lewe draai rondom plesier en vrolikheid nie. Die Here leer ons om te ontdek dit wat waarlik die moeite werd is om voor te lewe. Daarin ontvang ons soveel wysheid. Jou lewe gaan nie oor uiterlike dinge nie, dit gaan oor ‘n lewe saam met God, deur Christus. Daarin besef ons dat ons lewens kwesbaar is. Inteendeel – Ons staan met leë hande voor die Here. As gebroke mense, met leë hande, kom ons na die tafel van die Here. Ons weet ons is van Hom afhanklik. Sy dood gee vir ons ware lewe.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com