Lees: Prediker 11:7-12:14 Teksvers: 12:7 Sing: Ps. 130-1:1,2,3,4; Sb. 12-3:1,2; Ps. 103-1:8,9; Ps. 31-1:1,3,5; Ps. 46-1:1,4,6.
‘voordat … die stof na die aarde terugkeer soos dit was, en die lewensasem na God terugkeer wat dit gegee het.’
VIR EWIG JONK
Om jonk te wees. Om jonk te bly. Mense doen baie daarvoor. Ons verf ons hare en kleur ons naels. Ons eet gesond en oefen gereeld. Daar is ‘n verlange om aantreklik en mooi te wees. Aan die een kant is dit baie verstaanbaar. Ons is geskape om te leef. Om ewig jonk te wees. So was dit met Adam en Eva in die tuin van Eden. Mooi en aantreklik. Sonder rimpels of haarverlies. Sonder pyn. Sonder oud word. Sonder dood. Ons ervaar die dood as vyand. ‘n Spelbreker. ‘n Donker tonnel. En ons is bang daarvoor. Bang om die greep op die lewe te verloor. Bang om afgewys te word. Bang om dood te gaan. In Hebreërs 2 word die angs klinkklaar verwoord. Hy vertel van die Duiwel wat mag oor die dood het en nou: ‘hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het…’ (15) Hierdie lewenslange vrees sien jy in soveel kulture terug. In die ou tyd by die Egiptenare. Hoe hulle hulle dooies versorg. Piramides bou. By die Hindoes en hulle geloof in reïnkarnasie. By mense wat die geeste van die dooies oproep. Of by mense wat vashou aan die ideaal van selfbeskikking. Hulle kies vir euthenasie/genadedood. Om self te besluit wanneer kom jou lewe tot ‘n einde. Dan is jou lewenseinde darem in jou eie hand. Deur self die oomblik van jou dood te kies, lyk dit asof jy mag oor die dood het. Maar dit alles word gedryf deur vrees. En sonder Christus is die vrees tereg. Die boek Prediker gaan, soos wat ons nou al ‘n aantal keer gehoor het, oor die lewe onder die son. En dus ook oor die dood. Want die lewe onder die son hou op ‘n punt op. Nou aan die einde van die boek kom hy hierby. Die lewe gaan verby en jy kan aan niks vashou nie. Jy word ouer en aan die einde is die dood. Wat maak jy daarmee? Wat beteken die dood vir my lewe? Ons bely ons leef ewig – Dit beteken ons is ewig jonk.
Liewer die lewe
Die lewe is mooi. ‘n Lewe sonder bekommernisse is nog mooier. En tog gebeur dit dat jy ernstig siek word, of iemand na aan jou sterf. Dan is die realiteit daar – Liewer die lewe as die dood.
Die dood is onvermydelik
Prediker skryf oor ouer word. Uitvoerig met heelwat voorbeeld beskryf hy dit. Die mens doen alles in sy mag om so lank as moontlik te leef. Tog is die dood daar. As die Skepper gemis word, is daar in elk geval geen sin daarin om jou lewe te verleng nie.
Leef voor jou Skepper
Die lewe is ‘n pragtige geskenk van God. Sy lewensasem is die geheim van die lewe. Dit is Hy wat dit gee en ook weer tot Hom neem. En daarom, al is die dood onvermydelik, is dit deur Jesus Christus nie die einde nie. Leef voor jou Skepper!
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com