Skip to content
Menu

Lees: Psalm 95 & Hebreërs 3:1-19    Teksvers: 3:19         Sing: Ps. 150:1,3; Ps. 118:11; Ps. 91:1,8; Ps. 18:1,2,14.

‘Ons sien dus dat hulle vanweë ongeloof nie in staat was om in sy rus in te gaan nie.’

INGAAN IN DIE RUS VAN GOD

Pasop vir ‘n bose hart vol ongeloof. Dit is die waarskuwing wat die Here vir ons vanaand gee. Maar is dit nodig om dit te hoor? Ons is tog die gemeenskap van gelowiges. Is daar dan ongeloof in ons lewens? Is daar ongelowiges onder ons? ‘n Konfronterende waarskuwing. Dit is nie ‘n nuwe waarskuwing nie. Deur die loop van die eeue, het die Here hierdie selfde woord aan sy gemeente gegee. Ook destyds aan die volk Israel. Hebreërs 3 verwys hierna. In die eerste ses verse word daar beklemtoon dat Christus groter as Moses is. Dat Hy Moses in alle opsigte oortref. Ook dat Moses na Hom toe wys. Nou bou die prediker hierop voort. Hy gaan verder met die vergelyking. Die mense in die tyd van Moses (die gemeente destyds), en ons in die tyd van Jesus (die gemeente nou), is in ‘n vergelykbare situasie. Die volk toe moes die rus van die beloofde land ingaan. Ons vandag moet die rus van die ewige lewe ingaan. Die Israeliete het die stem van God gehoor, maar hulle het hulle harte verhard. Hulle kon die rus nie ingaan nie. Die hardheid en die ongeloof van Israel word uitvoerig beskryf. Vandag hoor ons die Woord van die Here. En daarmee saam kom die waarskuwing. Moenie julleself verhard teen die Here nie. Buig volgens sy Woord. Dit is nie mense se Woorde nie. Dit is die Heilige Gees wat self aan die woord is. Hoor – Julle moet reg wees om die rus in te gaan.

Die waarskuwing vir ongeloof

Ongeloof kan met ‘n paar woorde omskryf word. Dit is ontrou, wantrouig, hardkoppig, eiewys, onbuigsaam. Ongeloof is dit wanneer jy die Woord van die Here hoor, maar nie ag gee daarop nie. Mense wat hulle ongelowig verhard vir die Here kan nie in sy rus ingaan nie. Hiervoor waarsku die Heilige Gees ons vandag. As jy die Woord van die Here hoor moet jy dit gelowig aanneem en daarvolgens leef, nie jouself ongelowig daarteen verhard nie. As voorbeeld word die ongeloof van die Israeliete in die woestyn beskryf.

Die aansporing tot geloof

Geestelik en liggaamlik, ongeag die omstandighede, gaan ons altyd met al ons nood na die Here toe. Ons is ingelyf deur Jesus Christus. Ons is kinders van God, Hy is ons Vader. Die Here werk die geloof in ons harte. Daaraan hou ons onwrikbaar vas tot die dag wat ons die ewige rus mag ingaan.

Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com