Skip to content
Menu

Lees: Johannes 1:1-14          Teks: vers 14           Sing:  Ps. 48:4, 5; Ps. 81:1, 10, 11, 12;  Ps. 40:2, 3;  Sb. 1-2:1, 2, 3.   

Juis die skokkende van Kersfees bied uitsig aan brose en verganklike mense.

Inleiding: In ons teksvers staan die skokkende van Kersfees op die voorgrond. Juis hierdie skokkende van Kersfees, bied aan brose en verganklike mense uitsig.

Die skokkende van Kersfees.

In vers 14 lees ons dat die Woord mens geword het. Hierdie “Woord” wat mens geword het, is Een wat in die begin reeds daar was, wat by God was en wat Self God is (vgl. vv. 1-2). Hy, ja Hy, het mens geword! Letterlik staan daar eintlik dat Hy “vlees” geword het. “Vlees” beklemtoon die mens se nietigheid, broosheid en verganklikheid. Met die woord “geword” word duidelik gemaak dat die Woord nie op ‘n kunsmatige manier “vlees” geword het nie.  Hy het nie byvoorbeeld net ‘n skyn-liggaam gebruik en binne hierdie skyn-liggaam was die Woord nie. Hy het, soos alle ander mense, mens geword – onderworpe aan broosheid en verganklikheid (sonder sonde natuurlik!)

Hierdie Woord het “onder ons kom woon.” Letterlik staan daar dat Hy by ons kom tent-opslaan het. Soos met Israel in die woestyn waar God in die tabernakel (tent) in die midde van die volk gewoon het, het die Woord nou by die mense kom woon. Maar daar is ‘n reuse verskil. Nou is daar nie ‘n tent tussen die mense nie.  Nou is dit ‘n Persoon by die mense, naamlik die Woord wat vlees geword het. Mense sien ‘n Persoon, ‘n Persoon met siel en liggaam, ‘n mens wat voluit deel in die broosheid en verganklikheid van die mens, maar wel Iemand wat nie opgehou het om God te wees nie.  God het nou in ‘n Persoon kom tabernakel by die mense.  Dit is die skokkende van Kersfees. Dit laat ons verstom en verwonderd.

Uitsig aan brose en verganklike mense.

Maar, lees ons in vers 14: “Ons het sy heerlikheid gesien …”  Die apostels wat spesifiek geroep was om oog- en oorgetuies te wees, het hierdie heerlikheid waargeneem deur “deeglik te kyk” (“gesien” in oorspronklike taal). Die heerlikheid van die Woord wat vlees geword het, was sigbaar vir enige mens van daardie tyd, maar hulle wat deeglik gekyk het, het sy heerlikheid gesien. Watter heerlikheid het hulle gesien? Daar was nooit ‘n stralekrans bokant sy kop nie  (soos dit soms voorgestel word). Die heerlikheid was eerstens geleë in die band van die mensgeworde Woord met God die Vader. Hy, daardie Persoon wat daar in Betlehem gebore is, is God se “enigste Seun.”  Hy wat waarlik vlees geword het (en ook God is), is die eie natuurlike Seun van God. Die intieme band tussen die Woord en God (let op v. 1: “Hy was by God”), is nie verbreek toe die Woord vlees geword het nie. Die Persoon wat Johannes-hulle gesien het, was God se enigste Seun – ware Mens en ware God. Juis deur daardie heerlikheid-status van die vleesgeworde Woord, kon Hy in sy Godverlatenheid vir brose en verganklike sondaarmense die heerlikheid-status van “Kinders van God” verkry. Brose en verganklike mense wat die Geliefde van God as hulle Verlosser ken, mag weet dat hulle God se geliefde kinders is.

Die heerlikheid van die enigste Seun van die Vader word verder beskryf as “vol van genade en waarheid.” Hierdie woorde is ‘n duidelike verwysing na die “verbond-liefde en verbond-trou” waarna so dikwels in die OT verwys word (vgl. bv. Gen 24:27; Eks 34:6 en Ps. 25:6). Ja, in die Ou Testamentiese bedeling was God se liefde en trou sigbaar. Nou, met die Woord wat vlees geword het, skitter hierdie liefde en trou van God in volheid. Dit kon waargeneem word in die vleesgeworde Woord se teenwoordigheid en ook in sy totale optrede – as Hy voor sy dissipels kniel (Joh. 13) en hulle voete was, wanneer Hy by Lasarus se graf aangedaan raak (Joh. 11:33), wanneer Hy preek, wanneer Hy wonders verrig, wanneer Hy bid, maar veral aan die kruis (vgl. Joh. 17:1 en 19:19) en in sy oorwinning oor die dood en alle helse magte. Jy, Gelowige, is in jou broosheid en verganklikheid nie uitsigloos nie. Jy sien deur die oë van die apostel die heerlikheid van God se enigste Seun. Jy het uitsig. Jy sien God se liefde en trou.