Lees: 1 Petrus 3:8-22 Teks: 1 Petrus 3:15 Sing: Ps. 8:1,5,6; Ps. 42:1,5,7; Sb. 10-2; Ps. 65:1,4,9.
‘Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef.’
HOOP IN ‘N HOPELOSE WÊRELD
Hoop is een van die woorde wat deel maak van ons christelike taalgebruik. Meestal word hoop gebruik saam met geloof en liefde. Die woorde hou nou verband met mekaar. Hoop is ‘n term wat ons baie goed ken. ‘n Mens weet baie goed wat dit is, want ons hoop gedurigdeur. Jy hoop dat dit goed gaan by die werk. Jy hoop dat jou sportspan die wedstryd sal wen. Jy hoop dat jou kinders ‘n toekoms het in die land. Hoop is een van die kern elemente waaroor die mens beskik. Mense is optimisties. Daar is altyd hoop. Hoe sleg dit gaan, of hoe klein die kans is dat iets gebeur. As daar ‘n kans is, is daar hoop. Slegs ‘n algehele verslae mens raak hopeloos. Die hoop waarvan Petrus praat in sy brief, hou nou verband met ons geloof. Die hoop wat hy noem dui daarop, dat ons altyd vir Christus het. Omdat ons hierdie hoop van Hom ontvang, kry ons ‘n besondere plek in die wêreld. Waar die wêreld geen werklike hoop het nie, beskik ons daaroor.
Die hopeloosheid van die wêreld
Die wêreld van vandag verkeer in hopeloosheid. Siektes en oorloë is aan die orde van die dag. Die mens probeer van alles om van die wêreld ‘n beter plek te maak, maar keer op keer besef hulle dat dit nie moontlik is nie. Sonder God is daar nie hoop nie. Die moderne wêreld wat God nie ken nie is verslae, hopeloos. Gesinne val uit mekaar, die toekoms is onseker. Is daar hoop?
Die inhoud van ons hoop
As Christen het jy ‘n ander perspektief. In God kry ons hoop, want Hy is die God van hoop. Deur die geskiedenis het Hy sy uitverkore kinders versorg. Deur die Ou Testament het Hy sy volk onderhou. Ons mag daarby aansluit. Die hoop in ons harte berus op die dade van Jesus Christus. Hoe sleg dit op die aarde kan gaan, ons weet dat ons aan Hom behoort. Dit is die inhoud van ons hoop.
Die verantwoording van ons hoop
‘…altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef.’ Petrus sê dat ons verantwoording moet doen van die hoop wat in ons is. Wanneer iemand iets vir jou vra oor jou geloof dan moet jy bereid en gereed wees om daaroor te vertel. Ongelowiges verstaan nie dat ons hoop in die wêreld het nie. Daarom mag ons in hierdie taak nie versuim nie.