Psalm 87
‘Die HERE teken in die boek van volke op: “Hierdie een is daar gebore.”
HEMELSE BURGERSKAP
As ’n kind gebore word, is dit ’n wonderlike gebeurtenis. Nuwe lewe. ’n Klein nuwe persoon. ’n Wonderwerk. Elkeen van ons is gebore, Fisies. By jou geboorte is jy geregistreer, jou ouers het jou gaan registreer by binnelandse sake, daar het jy ’n geboortesertifikaat gekry. ’n Sertifikaat waarop jou naam staan, waar en wanneer jy gebore is. Aan hierdie sertifikaat is jou identiteit gekoppel. Hierop staan jou geboortestad, en jou nasionaliteit. As jy in Suid-Afrika gebore is, dan het jy Suid-Afrikaanse burgerskap. In Psalm 87 gaan dit ook oor burgerskap, maar nie oor burgerskap van ’n fisieke land nie. Hier gaan dit oor geestelike burgerskap. Die Koragiete sing ’n pragtige lied, ’n lied waar genoem word dat mense gebore is, gebore in Sion. Hulle sing oor die stad van God, hulle sing oor die koninkryk van God, ’n Koninkryk vol met burgers. ’n Stad vol met burgers, mense, kinders. Die en die is daar gebore. Ons staan stil by die feit dat ons ook gebore is in die stad van God.
Burgers van die Godstad
In die Psalm word daar gesê: God se grondvesting is op heilige berge. God vestig Hom hier op aarde. Hy wil dit doen. Hy kies vir Hom ’n plek uit. Van die Godstad word heerlike dinge gesê: God se fondasies is in haar, God het haar poorte lief, God noem hierdie stad Sy eie. By hierdie gedagte moet ’n mens stilstaan. Op hierdie oomblik is ek liggaamlik, ’n Suid-Afrikaner, besig met my daaglikse werk en baie ander fisiese dinge. Maar terselfdertyd is ek geestelik, ’n Christen, ’n burger in die Godstad. Heilig, afgesonder vir God. Die geestelike moet die liggaamlike vorm gee. Jou geestelike burgerskap is ewig, jou liggaamlike burgerskap is tydelik.
Burgers van die wêreldstad
In Psalm 87 word ’n aantal volke genoem. Ons hoor dit in vers 4 – “Ek sal Rahab en Babel noem onder dié wat My erken; ook Filistea en Tirus saam met Kus onder dié wat daar gebore is.” Dit is interessant. ‘n Mens is geneig om te dink dat God in die Ou Testament, slegs die Israeliete uitverkies het. Dat slegs hulle kinders van God was. Nou blyk dit anders. God sê dat mense uit hierdie volke Hom ken. God het Hom gevestig in Sion, maar sy Godstad is ook ’n wêreldstad. Van oral oor die wêreld was daar mense wat God geken het, wat God erken het as die ware God. Die stad van God word nie beperk deur nasionaliteit nie.
Burgers van die vredestad
In vers 6 hoor ons dat God in ’n boek skryf. In die boek van die lewe skryf Hy op wie in Sion gebore is. Hy skryf op – Die name van al die burgers wat in die stad van God woon. God het ’n boek van Lewe, en daarin staan almal se name wat eendag saam met Hom in ewigheid sal lewe.