Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier verkry word

Lees: Johannes 3:1-8; 1 Korinthiërs 12:1-11      Belydenis:  NGB Artikel 11          Teks: Johannes 3:5        Sing: Ps 24-1:1,4,5; Ps 43-1:1,4; Ps. 20-1:1,4,5; Ps. 23-1:1,2,3.

‘Jesus antwoord: Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie’

DIE PERSOON VAN DIE HEILIGE GEES

Ek glo in die Heilige Gees. Kort en kragtig word dit in ons geloofsbelydenis gestel. Waar die twaalf artikels handel oor God die Vader, word daar nog toegevoeg – Hy is die Almagtige die Skepper van die hemel en die aarde. Nog veel meer word oor die Seun gesê. Maar oor die Heilige Gees word daar nie uitgebrei nie. Ek glo in die Heilige Gees. Punt. Hieroor is deur die loop van die eeue al baie gepraat. Gee ons genoeg aandag hieraan? Eer ons die Heilige Gees, deur so kort oor Sy werk te bely? ’n Verwyt wat gereeld deur die charismatiese kerke teen ons gebruik word. Die antwoord is nee. Ons eer Hom ten volle saam met God die Vader en die Seun. Die Heilige Gees is een van die drie persone in die Drie-eenheid. Daarin staan hulle gelyk. Die een is nie belangriker as die ander nie. Maar hoekom bely ons so min oor die Gees? Hoekom so kort? Dit sien ons in die werk wat Hy doen. Die Heilige Gees maak dat ons deel kry aan Christus en al sy weldade. So bely ons. Daarom rig Hy ons aandag op Christus en nie op Homself nie. Dit sien ons deurlopend in die Nuwe Testament.

Die werk van die Heilige Gees

Die werk van die Gees hou nou verband met sy naam. Die naam Gees beteken asem of wind. In die Grieks en die Hebreeus word dit so vertaal. Sy naam vertel vir ons hoe Hy te werk gaan. Dit laat mens dink aan wind. So gaan die Gees te werk. Hy waai waar Hy wil. Toe Jesus in gesprek was met Nikodemus in Johannes 3 verduidelik Hy dit. En dan beklemtoon Hy een saak en dit is dat daar waar die Gees kom laat Hy iets nooit onveranderd agter nie. Hy bring lewe op die aarde en ook in die versteende harte van mense. Daar werk Hy die geloof in Jesus Christus.

Die gawes van die Heilige Gees

Deur die Heilige Gees mag ek deel in die skatte van die Here. In die Bybel word daar gepraat van die gawes van die Gees. Elke gelowige ontvang hierdie verskillende gawes. Die belangrikste gawes – hulle wat dien tot opbou van die Koninkryk. Profesie – die verkondiging van die Woord sodat die geloof, hoop en liefde net meer en meer kan word. Die doel van die Heilige Gees is nie dat mense in tonge praat of ander genees, of die toekoms voorspel nie. Die hoofdoel van die Heilige Gees is om mense tot geloof te bring. Dat mense openlik bely: Jesus Christus is die Here.

Die vrugte van die Heilige Gees

Die Heilige Gees is aan elkeen van ons gegee. Hy leef in ons harte. Hy leef in ons as gemeente. Hy kan gaan waar Hy wil. Deur die goedheid en genade van die Here vestig Hy Homself hier in ons. Toegerus met hierdie gawes kan ons vrug dra. Ons kan die liefde van die Here uitleef. In dankbaarheid elke dag mag ons deur die Gees beheer word. Mag ons ’n lewe leef wat getuig van die goedheid en die genade vanb God.