Die regstreekse uitsending is hier beskikbaar.
Skriflesing: Handelinge 1:15-26; 6:1-7 Teks: Handelinge 1:24,25a Sing: Ps. 148-1:1,2,5; Sb. 6-1:1,2,5,6; Sb. 10-2 (Onse Vader); Ps. 134-1:4; Ps. 135-1:1,2,11.
‘Daarop het hulle soos volg gebid: “U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het om die taak van hierdie diens van apostel oor te neem…”
Geroepe dienaars van Jesus Christus
Die laaste weke is daar ‘n paar keer afgekondig. Die volgende broeders word ter approbasie voorgehou. Daar is name gelees van broeders wat deur die kerkraad verkies is as ouderling of diaken. In die Bybel sien ons dit ook gebeur. In Jerusalem in die nuwe kerk. Eers word daar ‘n nuwe ouderling aangewys. ‘n Tydjie later ook sewe diakens. In Handelinge 1 is daar ‘n leë plek onder die apostels. Dit moet gevul word. Dit lyk nogal soos hoe ons vandag werk. Tog sien jy direk ook al ‘n verskil. In Jerusalem gebeur dit op ‘n besondere oomblik. Kort vantevore het Jesus opgevaar na die hemel. Ons het die gedeelte saamgesing. Sy dissipels wag nou in Jerusalem. In die dae tussen Hemelvaart en Pinkster sien jy hoe Jesus hulle bymekaar hou. As die groep mense nou uitmekaar spat, dan is die Hemelvaart van Christus die einde. Dan kan Pinkster nie kom nie. In die konteks sien jy die wonderlike krag waarmee Jesus uit die hemel vir sy volgers sorg. Voor Pinkster is die Gees van Christus in die stilte aan die werk. In Jerusalem kies hulle ‘n nuwe ouderling, ‘n tydjie later diakens. ‘n Belangrike stap eers vir die 120 mense daar in die bokamer, later vir die kerk wat aansienlik gegroei het. Jesus Christus regeer sy gemeente deur sy Woord en Gees, en daarby skakel hy mense as dienaars in.
Die vakature
Honderd en twintig mense is bymekaar. Tog is daar ‘n pynlike leë plek in hulle midde. Dit is Judas se plek. In die woorde wat Petrus gebruik, hoor jy die verbasing en afgryse. Die elf oorlewendes het baie om te verwerk: Judas, wat een van hulle was, het die gids geword vir hulle wat Jesus daardie nag in Getsemane gearresteer het. Sy plek moet nou gevul word. Jesus het twaalf aangewys om die evangelie te gaan verkondig. Iemand moet in die plek van Judas kom. Later ontstaan daar nog vakatures in die gemeente. Dit toe die apostels sien dat hulle nie al die werk gedoen kry nie. Toe wys hulle sewe diakens aan.
Die profiel
‘om die taak van hierdie diens van apostel oor te neem.’ In vers 25 staan twee terme langs mekaar. Dit is ‘hierdie diens’ en ‘apostel’. Die woord apostel beteken om te stuur of om uit te stuur. In die Evangelies kom jy reeds teë dat Jesus sy dissipels twee-twee uitstuur om die boodskap deur Israel te versprei. Hierdie manne kom in die naam van Jesus om sy woorde met gesag oor te dra. Saam met apostel staan die woord diens. Dit beteken dat die apostels nie bo die res gaan staan nie. Hulle het baie duidelik ‘n dien taak. Die woord kom gereeld terug. In Handelinge 6 lees ons dat die werktyd van die apostels en dissipels te min geword het en die weduwees in hulle daaglikse versorging oor die hoof gesien is. Daaromtrent besluit hulle – ‘Broers, soek dan sewe mans onder julle, van goeie getuienis en vol van die Gees en van wysheid, wat ons vir hierdie taak kan aanstel.’
Die invulling
Daar is geen demokratiese verkiesing nie. Die amp wys die amp aan. Tussen Barsabbas en Mattias het hulle geloot en die Here het vir Mattias aangewys. In Handelinge 6 wys die dissipels 7 broeders aan om as diakens te dien. Hulle word deur die apostels die hande opgelê.